agterpad
great divide mountain bike route #2
Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada. Hierdie is die tweede storie van sy reis. Lees die eerste storie - Die McClellans - hier:
Skielik voel ek baie alleen. Die enigste teken van mense is die stil, wit streep van 'n vliegtuig in die wye blou lug. Die enigste geluid is die sagte knars van klippies onder my fiets se wiele. So ’n uur gelede het ek op dié grondpad geklim. Die 5 000 km grondpad wat my, oor die Rocky-gebergtes en die denkbeeldige lyn van die kontinentale waterskeiding, na Kanada gaan neem,. Ek het gewonder, was bekommerd eintlik, oor hoe gewild die roete is. Ek kon al die advertensies in die dorpe waardeur ek gaan sien: “All cyclsits welcome” en “Cyclists! Get your WIFI here!”. Maar nou, hier, is daar niemand anders nie. Dis onheilspellend stil.
Ek staan en staar oor die stil, Nieu-Mexikaanse landskap. Al die natuurlike landmerke in die staat het spaanse name: Rio, Cerro, Caldera. Ek vind myself nou in die Valles Calderas: Die Laan van Vulkane. Daar is glo sewe op die pad, maar moenie dink aan Cotopaxi nie, hulle lyk meer soos Karookoppies. Ek sien wel die vulkaniese rots op die grondpad - lekker band-snyers. Ek mik tans vir Abiquiu, ’n klein plekkie ryk aan kultuur in Nieu-Mexiko. Mehedi van Hattum, wie ek deur die aanlyn fietstoergemeenskap Warmshowers ontmoet het, wag vir my hier. Warmshowers is Couchsurfing vir fietstoerders. Mense neem jou in vir ‘n aand of twee en jy doen eendag weer dieselfde.
’n Lekker lang afdraande deur die Zuni Canyon gooi my uit in die dorpie Grants. ’n Skotsman wat ek vroeër ontmoet het - hy op pad suid - het my reeds gewaarsku: “It’s a bit of a shithole”. Heel akkuraat dink ek soos ek inry. Grants lê op Route 66: Die betonaar wat ‘n massa, gedryf deur beloftes van beter lewens, na die Amerikaanse weste laat vloei het in die 1930’s. John Steinbeck beskryf hierdie tyd van gebroke drome briljant in The Grapes of Wrath. Al wat vandag oor is, is ’n vervalle dorp wat swaar dra aan die nostalgie van ‘n vervloë tyd.
Vanuit Grants voel dit of ek ewe skielik by Amerika se agterdeur geval het. ’n Vervalle teerpad - onkruid tot op die middellyn - word ’n enkel teerpad, word ’n grondpad, word sand. Dik sand. Ek is terug in die woestyn. Die son skroei die bruin landskap en ’n rotskoppie staan hier en daar. Daardie magtige Nieu-Mexikaanse wind is weer agter my. Maar hy help nie baie wanneer jy jou fiets moet stoot nie. Ek ken nou al dié wind en troos myself dat hy gewoonlik gaan lê saam met die son. Hierdie nag word hy net sterker. Ek probeer ’n skuilplekkie agter ‘n koppie vind. My pogings is sonder sukses. Met my oë oop lê ek wakker deur die meeste van die nag, die tent se wand skuins teen my gesig gedruk met ’n dik laag sand oor alles.
Die volgende oggend is daar kalmte. Ek geniet ’n koffie op ‘n rots met die eindelose uitsig voor my. Hier is min lewe. So nou en dan sien ek ’n boer. Gewoonlik ’n vriendelike Meksikaanse gesig met ’n sterk Amerikaanse aksent. Van die vorige middag af het ek nog nie een mens raakgeloop nie. Ek trek stadig verder deur die dik sand. ’n Bekommernis oor my watervoorraad bou stadig in my op. Ek werk ’n plan uit - ’n bottel vir elke 3 ure - en stoot aan terwyl ek weet dit is nie genoeg nie. Hier en daar is daar beeste en ek kyk na waar hulle saamdrom. Waar daar lewe is, is daar mos water. Ek probeer aanklop by ’n plaashuis, maar niemand is tuis nie. Bly hier ooit nog mense? Na ’n aanhoudende gesoek vind ek, tot my verligting, heelwat later ’n natuurlike waterbron op my kaart en vul my bottels met verligting toe ek daar kom. Die water lyk nie baie gesond nie, maar dit is beter as niks.
Ek spandeer die grootse deel van die dag om uit dié droë wêreld te kom en val laatmiddag uit in Cuba (die dorp!). Terwyl ek plat op die sypaadjie sit en water drink - sommer so uit ’n 4-liter bottel - nader twee mans my. Hulle vra of ek ook die kontinentale waterskeiding roete stap. Hulle lywe het baie lank terug water gesien en ek besef ek lyk ook seker so. Dié staproete is gewild onder Amerikaners en dit is maar relatief onlangs wat sy fietsroete boetie uitgewerk is. Hulle nooi my om by hulle plek te oornag, maar ek het nou eers genoeg van die dorre, warm wêreld gehad. Op my kaart sien ek ’n meer in die Santa Fe woud. Dis ’n verdere 500m klim wat my oor die 120km merk vir die dag sal stoot. Boonop is dit amper vyfuur, maar die drang na ’n skoon lyf op groen gras is te sterk.
Ek en my swaar gelaaide fiets klim die pas stadig uit en bereik, net voor sonsondergang, ’n ander wêreld. Groen woud, vars in lente en nat van die gesmelte sneeu. Daar is oral stroompies en sagte gras vir my tent. Te veel om van te kies! Dit is langnaweek en Amerikaanse families is oral besig om kamp op te slaan. Mense lag en kinders speel. Ek vind ’n eenkant-plekkie, maar nie te vêr van die mense se stemme nie - dit is lekker om weer lewe te hoor. Ek was my woestyn-lyf in yskoue sneeu water, maak ’n warm pot kos en slaap soos ’n klip.
Die volgende dag stoei ek deur die Santa Fe woud en oor die Jemez gebergtes. Af, op en op. Af, op en op. Ek is nou so 10 dae in my reis en my lyf het nou skielik besluit dat ’n rusdag benodig word, maar die opsies is beperk. My kos is op en ek moet eenvoudig net Abiquiu bereik vanaand. Met ’n groot gesukkel, oor paaie wat verdwyn onder klip- en rotsmassas, bereik ek laatmiddag die merk van 3300m bo seespieël. Die afdraande gee my nuwe lewe en ek skiet af oor nog ’n rowwe pad - verbaas met die uithou van my fiets onder die gewig - na Abiquiu. ’n Finale trek deur ’n lang vallei, met die agtergrond van ’n kleurvolle sonsondergang, bring my tot die voordeur van die Van Hattums net voor donker. Mehedi stap uit met ’n groot glimlag, bekyk my en my vuil fiets en roep: "Ridin the Divide!”
Mehedi en sy meisie Erin is pas terug van hulle fietstoer in Suid-Amerika. Hulle weet presies wat mens wil hoor op die oomblik: “Daar is ’n warm bord kos en hier is ’n handdoek vir ’n warm stort. Wat wil jy eerste hê?”.
Ek kan uiteindelik ‘n rusdag by die Van Hattums deurbring. Mehedi se pa, Daniel, is oorspronklik van Nederland. Hy het in die laat 1980’s Mehedi se ma in Jerusalem ontmoet. Nadat hy sy vrou se Moslem geloof aangeneem het, het hulle saam na Abiquiu toe getrek. In hierdie tyd was daar ’n nuwe Islamitiese kultuur sentrum in aanbou en Daniel het as skrynwerker kom hand gee. Die sentrum, ontwerp deur die bekende Egiptiese argitek Hassan Fathy, sit op die wit-rots heuwels agter die dorp. Es argitek vra ek vir Mehedi om vir my asseblief die gebou te gaan wys. Dit is ’n warm dag, maar die ruimtes binne die moddersteen gebou is koel en kalm. Presies waarvoor Fathy bekend is. Daniel se Mashrabiya-houtwerk detail skei die vertrekke terwyl natuurlike lig fyn skaduwees deur dit trek.
Dié dorp het baie kultuur. Mehedi gaan wys my ‘n ou rotstekening wat die Indiane gelos het. Daarna het die Spanjaarde hulself hier gevestig nog lank voor dié wêreld deel van die VSA geword het. Ons ry deur die ou dorp en bewonder die katolieke kerk - sy muur ook van modder - asook die voormalige woning van die gesiene, ontslape kunstenaar Georgia O'keeffe.
Die aand maak ek vir my gashere ’n Durban kerrie (die Indiese tannies het ons mooi geleer daar) en deel stories oor fietsry in Suid-Amerika. Ek gaan slaap met ’n warmte in my hart wat mens net kry deur die gasvryheid en geselskap van ander mense. Die volgende oggend vroeg pak ek my fiets rustig. My lyf is lekker uitgerus en gereed vir die pad verder noord. Die Van Hattum huis is nog stil. Dit is Ramadan en hulle is terug bed toe na hulle 4vm ontbyt. Ek los ’n brief en trek weg met die son nog laag agter die bome, in bewondering met die ervaring van wanneer lewens gedeel kan word sonder om geld te verruil.