die mcclellans
Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada. Hierdie is die eerste storie van sy reis.
“Kom in” hoor ek ‘n stem vanuit die plaashuis. Die portaal ruik na kat-urine en twee vet hasies kyk hartseer op vanuit ’n baie klein hok. Ek stap in. Om die hoek sit ’n swaar gegrimeerde vrou skuins in haar stoel, haar linkerhand besig om hoender-nuggets, gemeng met iets tamatierigs, uit ’n blikkie te eet. Haar regterhand is rustig gevou om die loop van ’n groot geweer wat langs haar op die vloer rus.
‘n Uur of wat vroeër het ek en my fiets, “fiets”, Nieu-Mexiko vanuit Arizona in gevlieg. ‘n Magtige noordwestewind getrou aan ons kant. My liggaam raak nog gewoond aan hierdie skielike leefstylverandering. My oë sukkel om op die pad te fokus met dié wye landskap om my. My regteroor luister na die klankboek van Bertrand Russell, A History of Western Philosophy - dis die dele oor die mens en ervaring wat my geïnteresseerd hou. My linkeroor luister na daardie groot Amerikaanse vragmotors. My ouers sê ek hou hulle op hul kneë so ek kyk mooi na myself.
My fietstoer het so 3 dae gelede in Tucson, Arizona, begin. Annheliza en ek het ‘n jaar gelede na dié plek in die woestyn getrek. Tucson is ’n dorp so wyd soos 'n stad. Alles in die land is wyd. Die plek is gevul met hippies en taco’s. Dis warm hier. Laat lente sien al klaar temperature naby 40 °C.
My pos by die Universiteit van Arizona beteken dat ek ’n drie-maande-somervakansie kry. Dit vra mos vir 'n groot avontuur. Die soort avontuur het ek al vroeër in my lewe beleef. Die eerste keer saam twee skoolvriende in 2010 om Suider-Afrika. Meer onlangs saam Annheliza en vriende in die Andesgebergtes waar ons Ecuador en Peru verken het. Ek het vinnig besef dat hierdie die lekkerste ding op aarde is.
Maar die keer is ek op my eie, Annheliza kry minder verlof. Die uitdaging is lekker. Ek gaan op die naat van die Rocky-gebergtes 'n reis van 5 000 km aanpak wat my hopenlik by my familie se voordeur in Williams Lake, Kanada, sal aflaai. Die grootste deel van die roete sal die Great Divide-bergfietsroete volg. Dié roete, glo die langste van sy soort ter wêreld, begin in Nieu-Mexiko en kruip so langs die kontinentale waterskeiding tot in Banff, Kanada. Die kontinentale waterskeiding is 'n denkbeeldige lyn wat reënwater se afvoer skei tussen die Stille en Atlantiese Oseaan.
Op die oomlbik is ek sterk op pad in ’n oostelike rigting om by die roete in Pie Town, Nieu-Mexiko aan te sluit. My reis het my tot dusver uit die Sonoran-woestyn - met Saguaro-kaktusse wat arms in die lug toekyk - getel en deur ’n paar Arizona-bergreekse op die hoë woestyn-plato van Nieu-Mexiko neer gesit. Dis droog en warm, al het dit net laas week nog hier gesneeu.
En dis hier waar ek afgedraai het na die McClellans se plaas op linkerhand. Gewoonlik begin ek teen dié tyd – so ’n uur voor sonsondergang – uitkyk vir ’n bossie langs die pad om myself weg te steek vir die nag. Dis wat avontuur vra. Die skewe huisie sit styf langs die hoofpad. Die klein tuintjie voor bied nie veel nie - dis meer van 'n fondament vir die vet wit paal en groot Amerikaanse vlag wat trots boaan wapper. Die wind waai so sterk, hy staan eintlik styf.
By die voordeur wag ek onrustig terwyl ’n kwaai hond uit sy halsband probeer ruk. ’n Jong meisie maak eers die deur oop. Ek vra of ek my tentjie iewers op die werf kan opslaan vir die nag. Ek benodig niks anders nie. Sy sê sy sal haar ma vra en dis dan wanneer ek die stem van binne hoor wat my innooi. Mev McClellan, hand om die loop, sê vir my dat sy altyd haar dogter vra om die geweer te gaan haal wanneer ’n vreemdeling by die plaas opdaag. Die McClellans is oorsponklik van Mississippi en ek hoor haar sommer in daai sterk aksent roep: "Angela, go ge me ma guuun!". Sy merk net haar gebied, troos ek myself, maar wonder dadelik of ek nie maar harder vir daardie bossie moes gesoek het nie.
Tot my verligting is Mev McClellan darem toe heel vriendelik. Sy sê ek is welkom om enige plek op die werf op te slaan en druk selfs ’n ystee in my hand. Op pad uit sê sy haar man is op pad huis toe. Hy is glo baie vriendelik. Maar hy het ook seker ’n geweer, dink ek. Die werf is deurmekaar en geroes. In 'n hok is daar is n bok saam n paar hoenders en daar is natuurlik 'n RV geparkeer. Hierdie recreation vehicle is amper groter as hulle huis. Ek dink elke Amerikaner besit een. Ek vind ’n plek tussen ’n stukkende grassnyer en ’n hoop stompe en slaan my tent huiwerig op. Ingery kom ’n swart dubbelas-agterwiel-bakkie. Wyd. Ek sien hoe hy stadiger ry om te sien wie die knaap op sy plaas is. Ek loop dadelik nader om myself met ’n groot glimlag voor te stel. Charles McClellan, ’n joggie in sy jong dae, is 'n kort, maer man met pikswart tande en ’n snor waarvan die twee punte onder die ken hang. Hy praat nie baie nie maar dit lyk darem of hy kan saamleef met dié idee. Later bring hy selfs ’n kaart na my tent om te gesels oor my roete. My afdraai na die Great Divide-roete is nie vêr van hier nie. "Daardie grondpad…” sê hy. “Ek werk vir die plaaslik reddingspan en ons gaan haal gereeld fietsryers daar". Dankie oom, dink ek. Hy stap weg en herinner my aan die uur tydsverskil tussen Nieu-Mexiko en Arizona. Lekker om te weet dit maak nie aan my saak nie. My dag volg die son.
Die volgende oggend maak ek ontbyt op ’n oliedrom, pak my fiets en stap oor na die huis. Mev McClellan het my genooi vir koffie. "Geen suiker of melk, Regtig?" vra Angela met ’n frons. Sy, haar suster Tahitha en hulle ma is besig om beurte voor die grimeerkassie te maak. Dié staan op die eettafel en ek sit oorkant. Hulle gaan vandag dorp toe vir ’n nefie se skoolgradeplegtigheid. Charles is al werk toe. Boere slaap mos nie laat nie. Die twee dogters het ook elkeen ’n kind wat ek gister op die werf sien rondhardloop het. Die geel skoolbus het hulle reeds kom optel.
My groot, flou koffie is geskink in twee wegneem-plasiekkoppies wat inmekaar gedruk is. Mev McClellan, rasperstem en sigaret in die hand, vertel my van die familie se lewe op die pad tydens haar man se joggie dae. "Ons het vriende oor die hele Amerika". Sy wys foto’s op die muur van Charles die joggie en vertel van die keer wat hy gewen het toe die kans 71 tot 1 teen hom was. Dit was in dié tyd dat haar gesin tot agt kinders aangegroei het. Die ander ses is verspreid oor die land heen. Sy reken sy het al 20 operasies gehad, was op 'n tyd in 'n rolstoel en besit nou ’n kunsmatige keel en voet. Sy is redelik trots hierop.
Ek dank die McClellans vir hulle gasvryheid en neem die pad verder oos. Daai wind is klaar weer volsterkte, maar die kort vet dennebome op die Nieu-Mexikaanse landskap beweeg nie eens nie. Hulle is al gewoond aan die storie. Die eenstraatdorpie Quemado is my laaste stop voordat ek die verlate grondpad sal aanpak. Hierdie is kleindorp-Amerika. Almal het ’n geweer en ’n groot hond. By die kleinhandelaar stel ’n gryskop-tannie my gerus en sê hierdie is die goedkoopste van die twee winkels op die dorp. Sy vra uit oor my roete. “Daardie grondpad! Jy kan nie eens met ’n bakkie daar ry nie!” Dit kan nie erger as Peru wees nie, dink ek. My fiets het kapasiteit vir ses liter water, maar ek gooi sommer nog ’n gallon agter op. Dis mos vier liter of iets.
Die wind voer my verder en kort voor lank bereik ek die afdraai. 'n Heldergeel bord waarsku motoriste teen die pad. Ek draai noord en voor my lê die oop, stil agterpad in wye perspektief. Die wind nou teen my gesig. Ek raak opgewonde oor wat voorlê: ’n Baie groot bergreeks, nóg vier Amerikaanse state, ’n ander land, natuurskoon, avontuur, familie en hopenlik nog baie interessante mense.