wyn en vallei

Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada.  Hierdie is die vyfde storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:

Bob Irving spog oor sy Wiskey, maar nooi my in vir ‘n glas wyn.  Ek kla nie.  Hierdie klas goed is swaar en ‘n luuksheid op ‘n fiets.  Bob is ‘n afgetrede Skot en die opsigter van die kampterrein waar ek besluit het om ‘n rusdag deur te bring.  Ons sit voor sy RV met die groot Granby-meer voor ons uitgestrek.  Die sonsondergang gooi allerhande kleure oor die water en agter dit lê die reuse, sneeubedekte berge van die Rocky Mountain-Nasionale Park.  Met tyd aan my kant het ek besluit om ‘n ompad te neem na dié bekende park in Colorado.  My oorspronklike plan was om na die park self te gaan, maar met hierdie uitsig op so ‘n netjiese kampterrein is daar min rede om verder te beweeg.  Van hier sal ek terugdraai om weer by die Great Divide-bergfietsroete aan te sluit.

Met eerste oogopslag lyk dit of Bob sy hele lewe lank al hier bly - dit is ‘n bietjie deurmekaar - maar hy vertel my van sy lewe as professor en al sy doktorsgrade in biologie en chemie, asook van sy onlangse egskeiding.  Hierdie is sy eerste somer as opsigter.  Ook sy eerste somer alleen.  Ek besef ons is altwee ewe desperaat vir ‘n bietjie geselskap.

Ek en Bob vind vinning aanklank by mekaar deur musiek.  Bob is ‘n voëlkyker en vertel hoe hy sy vrou vertel het van die Black Birds toe hy in daardie tyd Amerika toe getrek het.  “Just as the Beatles used to sing” voeg hy by:

 

Black bird singing in the dead of night

Take these broken wings and fly

 

Na nog ‘n glas wyn is ons agter Bob se rekenaar en kyk een musiekvideo na die ander.  Met Jefferson Airplane hard aan die raas groet ek eers.  My lyf is moeg en ek is honger.  Môre is nog ‘n dag.

Na ‘n ontspanne rusdag groet ek vir Bob op my tweede oggend by die Granby-meer.  Dit is altyd lekker om weer weg te trek.  Die energie van ‘n fietstoer lê in die beweging.  ‘n Sterk wind keer my van voor. Ek druk deur met baie energie, min wetende dat hierdie wind my nog vir lank gaan martel.

Die pad vloei deur die vallei van die Colorado Rivier.  Dié rivier se oorsprong is net noord van die Granby-meer.  Van daar vloei hy deur Colorado, Utah, Nevada en Kalifornië tot in Mexiko waar hy in die Golf van Kalifornië instroom.  Om so deur ‘n vallei te trap is die heel beste van toestande op ‘n fietstoer.  Die paaie is gewoonlik redelik plat met mooi berge aan beide kante.  Dan is daar natuurlik al die water met groen gras - perferkte opslaanplekke vir my tent.

Later die middag bereik ek Kremmling. Untapped, Untamed lees die bord by die ingang van die dorp.  Dit lyk nogal wild, stem ek saam in my gedagtes.  Kremmling is een van daardie plekke waar dit voel of jy al Trump se ondersteuners onder een dak gaan raakloop.  Steeds vind ek ‘n Mexikaanse eetplekkie vir ‘n paar Tacos. 

Ek besluit om ‘n kampplekkie buite die dorp te gaan soek.  Met die wind steeds sterk teen my trap ek stadig aan en bereik later ‘n plaashuis op regterhand.  Die meeste van my roete het sover gevleg deur nasionale woude.  Lekker publieke grond waar jy enige plek mag kamp, maar hier is nou net privaat grond om my.  Ek besluit om die boer te vra of ek my tent daar vêr langs die rivier mag opslaan.  Ek voel skuldig terwyl ek saggies hoop dat hulle my sommer sal innooi vir aandete en ‘n stort.  Tot my groot teleurstelling gebeur die teenoorgestelde.  Die boer sê nee.  Blykbaar gaan ander mense dan ook hier wil kamp.  Ek is verward oor wie dié ander mense is, maar ek besef dat die son besig is om vinnig te sak.  Ek moet dringend ‘n ander plan maak.  Ek draai terug dorp toe en vind ‘n afgeleë pad na die rivier.  Dit lyk perfek, maar soos ek stop en die muskiete my aan die arms begin oplig, besef ek dat hierdie ‘n slegte idee is.  Moedeloos trap ek terug dorp toe.  Hierdie draai het my meer as 20km gekos.  Dit is vêr op ‘n fiets, veral op hierdie paaie na ‘n 100km dag in die saal.  Ek is wel opgewonde oor die stort wat ek nou kan vat.

Vanaf Kremmling is dit twee dae se trap na Steamboat Springs – die eerste groot dorp wat ek sal bereik in meer as tien dae.  Die Great Divide-fietsroete bly, waar moontlik, net op grond- en agterpaaie.  Dit is dus nie noodwendig die kortste pad nie.  Met ‘n draai verlaat ek die Colorado Rivier, druk oor ‘n styl pas, en val weer terug in die vallei ‘n paar ure later.  Dit is so 30 km verder, maar minder as 20km nader aan Steamboat Springs. 

By ‘n plek met die naam Radium stop ek vir middagete.  Radium is net ‘n kampterrein en bymekaarkomplek vir die White Water Rafting industrie - groot besigheid op dié rivier.  Ek geniet my middagete terwyl massas mense, met die hulp van ‘n baie sterk stroom, op allerlei bote en vlotte verby vaar.  ‘n Groot man en sy vrou sit naby en ons begin gesels oor Colorado.  Ek hou sover baie van dié plek.  Reuse berge, diep valleie, mooi mere, digte woude en wye groen grasvelde.  Alles met lekker dorpies tussen.  Ek kan myself eendag hier sien bly en vertel dit so vir hulle.  “Yes”, antwoord Grootman in ‘n klaende stem, “and so does everybody else”.  Ek besef skielik dat die gemiddelde Amerikaner nie net slapelose nagte oor internasionale immigrante het nie, maar ook oor die plaaslike instroming van Amerikaanse burgers uit ander state.  Hierdie is sy land, sy staat, sy erf, sy huis en sy geweer.

Ek groet vinnig en trap aan.  Die vallei is die teenoorgestelde van die berg - jy kry eers die afdraande bederf en dan die opdraande se harde werk.  Hierdie is ‘n ernstige opdraande.  Ek onthou iets van die pad vanuit die navorsing wat ek gedoen het.  “Styl en slegte agterpaaie”.  My bene voel dit gou.  Ek is op my laagste rat en die fiets bly net-net regop.  Jy moet aan die beweeg bly op dié opdraandes.  As jy eers gaan staan is dit stoot tot bo – daar is geen manier om weg te trek met die gewig op ‘n fiets nie.  Met my lyf wat klou aan die fiets, en my fiets wat klou aan die berg, kyk ek uit oor die mooi vallei met die Colorado Rivier nou vêr onder.  Die uitsig word net meer indrukwekkend soos ek klim. 

Ek dink aan Peru waar diep valleie soos die ‘n daaglikse uitdaging was.  Jy begin die oggend hoog bo - koffie in die hand - met ‘n uitsig in die rigting van ‘n pad, aan die anderkant van die vallei, waaraan jou fiets se wiele agt ure later eers sal raak. 

Ek bereik later die middag ‘n kampterrein, maar ek soek eerder my eie kampplekkie langs ‘n klein meer.  Behalwe vir die ingeboude tafel en stoel is daar nie baie waarde aan die $20 kampfooi vir ‘n fietstoerder nie. 

Die volgende dag, oor nog baie op- en afpaaie, bereik ek Steamboat Springs.  Hier het ek weer verblyf gereël deur die aanlyn-fietstoer gemeenskap Warmshowers.  My gasheer gaan eers sesuur tuis wees en ek spandeer die middag in die dorp se park met pen in die hand.  Tydens my drie ure se vertoef kom gesels vele plaaslike mense met my.  Hulle is meestal ander fietstoerders wat die fiets sien en kom hoor wat my avontuur is.  Drie van die mense bied selfs vir my slaapplek aan vir die nag.

Ek dink weer aan Grootman daar in Radium wat so gekla het oor ander mense op sy ‘grond’.  Hy was nie die eerste nie.  Jy kan hulle gedagtes lees:  “Hoe maklik gee ons land net visums weg”  ‘n Mens voel dan sommer baie onwelkom, maar dan, na ‘n middag soos hierdie is die balans herstel.  Drie vreemde mense nooi jou na hulle huis toe vir aandete en slaapplek.  Jy besef weer dat dit nie land-spesifiek is nie, maar eerder mens-spesifiek.  Soms ontmoet jy vir Grootman, maar die meeste kere ontmoet jy vir gawe Richard, John en Bob. 

Ek gaan Colorado mis.  Wyoming is my volgende staat en lê agter ‘n groot pas net noord van hier.  Ek hoor die sneeu lê ook nog dik daar bo.