wit modder

Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada.  Hierdie is die derde storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:

Dit is nou wat gebeur as ’n Vrystater in die sneeu rondspeel, verwyt ek myself.   Dit is diep in die donker nag.  Ek lê in my tent op ’n afdraande, dwars oor ’n paar grasknolle, 3300m bo seevlak, op ’n berg iewers in die noorde van Nieu-Mexiko.  Dit is baie ver van ‘n ideale kampplek, maar dit is die beste wat ek kon doen tussen al die dik sneeu om my.  Dit alles kan ek hanteer, as ek net kan slaap.  Maar my oë is wawyd oop en my hart sit in my keel en klop hard en vinnig.  Ek was nog nooit so angstig nie.  En dit was nog alles voor die onheilspellende gehuil van ‘n trop wolwe deur die yskoue lug opklink.

My bergfietstoer oor die Amerikaanse Rocky-gebergtes op pad na Kanada, het tot nou toe al ’n paar uitdagings gebied, maar hierdie is anders.  Ek twyfel nou sommer oor die hele reis.  Het ek genoeg navorsing gedoen?  Het ek genoeg kennis van die wildernis vir hierdie soort avontuur?  Gaan ek ooit van die berg kan afkom?

Kos en skuiling – die mees basies menslike behoeftes. Dit en dan natuurlik ander mense om dit mee te deel.  Om met ’n fiets te toer herhinner jou daagliks hieraan.  In oomblikke soos die is dit al waaraan jy kan dink.  Ek probeer myself troos: Ek het genoeg kos by my vir twee tot drie dae.  Hier is baie water op die berg.  My slaapsak is ontwerp om my warm te hou tot in temperature van -40° C.  Tog wil ek nou meer hê.  Ek begeer nou ‘n houthuisie met ‘n kaggel waarin ‘n warm vuur knetter.  Lekker sop op die stoof en mense wat lag terwyl hulle grappies vertel.  Ek soek nou ‘n tuiste.

Dit was toe ek by die boom kom wat ek eerder moes omdraai.  Ek dink terug aan die gebeure van die dag.  Dit was so teen middagete wat ek besluit het om die laaste pas in Nieu-Mexiko aan te pak.  Ek moes net oor die berg kom, dan is ek in Colorado, die derde Amerikaanse staat van my reis.  Daar weet ek lê die hoogste pas van my hele roete op 3500m.  Ek het gehoor daar is nog dik sneeu en sou plaaslik verder ondersoek ingestel het, maar hierdie voorlaaste pas het my nou onkant gevang.

Die vet denneboom was plat en dwars oor die hele pad.  Die swaar winters verwoes hierdie woude.  Alles het toe begin sin maak toe ek begryp hoekom ek nog die hele middag geen ander mense gesien het nie.  Die pad is seker nog gesluit na die winter.  Dit beteken niemand kom hier nie. Klein sneeuplassies (waar ek eers met trots ’n foto geneem het) word toe groot massas, pap gesmelt in die warm lenteson.  Wit modder dink ek toe ek my swaar gelaaide fiets stadig deur dit begin sleep het.  Waterstroompies kou holtes uit die hompe sneeu en plek-plek val ek en my fiets kniediep in.  Nou is ek nat en koud ook.  Boonop is dit opdraande. ’n Styl agterpad.  Ek kon voel hoe ek krag uit vrees kry, maar op plekke was dit net nie genoeg nie.  Ek het my sakke verwyder en dit apart van die fiets begin opdra.  Oor die pap sneeu en tussen deur nog bome wat verstrooid rond lê.

Dit was na so drie ure se stoei wat ek op ’n stadium opgekyk het en besef het dat ek die pad verloor het.  Voor my was net sneeu en bome.  Ek het darem my foon met sy GPS funksie maar hierdie is nou heeltemal te veel vertroue in ’n smartphone.  Ek het al gesien hoe hulle net doodgaan wanneer mens hoogtes invaar.  As ek net die hoogtepunt van die pas kan bereik, het ek gedink.  Die afdraande behoort makliker te wees, selfs deur die sneeu en klei.  Ek het egter ook skielik besef dat ek op die suidekant van die berg was; die sonkant in die Noordelike halfrond.  Anderkant wag dalk nog dikker sneeu!

Soos die son begin sak het, en ek besef dat die einde nog vêr van sig is, het ek begin uitkyk vir ‘n stukkie gras vir my tent.  Ek is nou in beer-wêreld en moet eintlik my kos sak, soos vorige aande, iewers anders wegsteek, maar vanaand kan ek nie myself van my enigste kos skei nie.  Die beer moet dit maar hier kom haal.  Ek klim toe net so in my slaapsak en wou net slaap - net die nag verby kry en dan van die berg af kom.

So lê ek nou hier, ’n paar ure later en nog wawyd wakker.  My selfoon is styf in my hand onder die warm slaapsak.  Ek is onrustig.   Hoe ver nog tot bo?  Hoeveel sneeu is daar nog?  Wat gebeur as my foon doodgaan?  Die weer!  Kan dit nog sneeu die tyd van die jaar?  Daardie wolwe?

Met die son se eerste bietjie lig is ek op.  My tent is styf gevries, maar ek pak vinnig op en stoot aan in die koue oggend - die son nog laag agter die bome.  Tot my verligting besef ek dat die koue nag vir my gunstige omstandighede geskep het.  Die sneeu het weer gevries en bied nou ’n harde (maar wel gladde) oppervlak om oor te stap en stoot.  Ek trek stadig aan en bereik die boonste punt van die pas na so drie ure.  Die afdraande gaan nog makliker.  Ek begin al hoe meer verlig voel.  Die helder blou lug, sneeu- en reënloos, bring ook sy eie kalmte.  Klein dele van die pad begin verskyn en word langer soos ek afgaan.  Hier is wel nat klei en kort voor lank sit dit so dik aan my wiele dat ek sukkel om te stoot.  Dit laat my remme in gee en ek besef dat dit stoot tot onder gaan wees.

Ek bereik die voet van die berg en aansluitende teerpad so teen middagete.  Karre, mense, lewe!  Ek gaan sit net daar en begin vreeslik baie eet.  ’n Stormloop van energie en ongelooflike lewenslus oorval my.  Ek lê agteroor met ’n glimlag en dink aan daardie volgende pas in Colorado.  Miskien moet ek hom maar probeer?