waai wind
Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada. Hierdie is die sesde storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:
Hierdie is ’n sterk wind. Hoe beskryf ‘n mens dit? Ek staar met verbasing, neem foto’s en video’s, maar ek kry nie die oomblik vasgevang nie. ’n Paar keer word ek van my fiets af gegooi - gelukkig beweeg ek teen ’n slakkepas. Nie eens die afdraandes bring verligting nie. Hier moet ek steeds trap soos ek terug gedruk word. Dit gaan ’n lang drie dae wees.
So ‘n uur gelede het ek Rawlins verlaat. Dit was die eerste dorp in die vierde staat van my bergfietstoer oor die Amerikaanse Rocky-gebergtes. Gisteraand het ek juis gelê en dink hoe elke deel van hierdie toer sover ‘n uiterste van ‘n ander soort na my kant toe gegooi het. Daar was die sneeu, die stormreën, die hael, helse passe en soveel slegte paaie. Nou is dit die wind in Wyoming, sien ek.
Wyoming voel soos Colorado se teenmiddel. Colorado is die plek waar sterk riviere deur wye, groen valleie sny met sneeu-bedekte berge wat toekyk. Dit is ook ’n staat waar dagga wettiglik verkoop word. Hier in Wyoming is dit plat met bakkies en cowboys. Ek het juis gister die eerste een ontmoet. ’n Man wat teen sy dubbelas-agterwiel bakkie lê met sy een knie gelig - voet op die agterwiel - en arm wat wyd oor die bak se rand strek. So kyk hy skuins oor die landskap en fluister na my in sy skerp aksent: “Yup, these here our cows”. Hy kon dalk nog ’n grassie in die hoek van sy mond ook gehad het.
Die landskap hier is uniek. Met die skielike verdwyning van bome en berge is net die plat Sagebrush bossies oor. Ek is nou in die Great Divide Basin. ’n Groot holte in die aarde van waar geen reënwater ooit enige oseaan bereik nie. Die denkbeeldige kontinentale waterskeidingslyn - waarlangs my roete vleg - deel sommer hier in twee en kom later weer bymekaar. Dit is ’n hoë woestyngebied. Droog, nat, koud en warm. Alles gebeur hier, soms sommer op dieselfde dag.
In Rawlins se stofverwaaide bruin strate het ek ’n fietsryer ontmoet - sy was op pad suid saam ’n paar vriende. Met die wind hard in ons ore vertel sy my van drie dae se stoei deur hierdie landskap met wind, reën en…’n sneeustorm? Nou het sy my aandag. Sneeu! Dit is dan somer. Sy herinner my ook aan iets wat ek al goed bewus is van. Hulle gestoei was met hierdie wind van agter. Ek gaan kop eerste in.
Op hierdie toer was ek nog meestal bederf met die wind van agter, maar hierdie westewind het so ses dae gelede opgekom en nog nie weer sy lê gekry nie. Hy word eintlik net sterker. So het ek Rawlins vanoggend verlaat en die ergste verwag.
Hier is alweer min lewe. Ek kan verstaan hoekom, want wat sal jy tog hier doen? Ek sien verlate huisies, ’n bees hier en daar en selfs ’n paar wilde perde. Maar eintlik hou ek die lug bo my dop. Bly net kalm wolke, fluister ek, die aarde roer genoeg. My noodplan is altyd my tent. Ek kan hom enige plek opslaan en in my baie warm slaapsak klim. My skuiling kan redelike groot reënstorms hanteer. Selfs ’n klein sneeustorm, maar in hierdie wind is tentopslaan onmoontlik. Soos ek ry kyk ek uit vir murasies en ander vervalle strukture waarby ek moontlik skuiling sal kan vind, indien die weer sou draai.
Met die son wat sak oor die plat grasvelde bereik ek ‘n klein dam. Die skemer se wind is nou bietjie kalmer, maar dit lyk steeds of die wind die water van die aarde gaan afstoot. Ek vind ’n skuiling agter ’n duin en kry my tent met groot gesukkel opgeslaan. My tent bied genoeg skuiling vir kosmaak en ek is in my slaapsak voor donker. Die wind gaan lê gelukkig saam met die son, maar kort voor lank hoor ek donderweer gevolg deur druppels op die tent se seile. Of is dit sneeu? Ek bring die nag half wakker, half aan die slaap deur met dié twyfel en bekommernis.
Die volgende oggend hang donker wolke in die lug met die swaar druppels wat steeds liggies uitval. Wat is nou die beste besluit? Verlaat ek my opgeslaande skuiling en trap aan? Of wag ek vir die weer om op te klaar? Ek besluit dat daar meer onsekerheid in wag is, slaan my tent op in die reën, en trap aan. Die wolke beteken darem minder wind en ek probeer die meeste van dié bietjie gunstige omstandighede maak.
Later die middag is die wolke weg en die wind weer terug in sy volle glorie. Boonop strek die enkelspoorpad oor rollende heuwels. Alles is hard op die bene en ek beur stadig voort. Met geen boom of water in sig nie wonder ek waar ek vanaand sal slaap. Naby sononder val ek met verligting in ’n klein, groen vallei in. Die fietstoerder se droom: Baie water, skaduwee en lekker sagte gras. Selfs die wind het bietjie kalmeer en, met hoop in my vir beter toestande môre, raak ek vas aan die slaap.
My goeie moed is van korte duur. Die volgende oggend, terwyl ek my bord in die rivier was, kyk ek om en sien my tent oor die graslandskap rol. Ek het reeds die penne uitgetrek en gewag vir die nag se dou om te verdamp. Ek is sommer klaar moedeloos soos ek agter my huisie aan hardloop terwyl die wind hom saam met die stof meesleur.
Dit vat lank om die laaste, kort 20km tot by Atlantic City af te lê. Hierdie is nie ’n stad nie. Dit is ook nie ’n dorp nie. Hier staan skaars ’n huis, maar dit is die eerste lewe op my pad vanaf Rawlins. Ek geniet ’n koppie koffie by ’n restaurant. Atlantic City was op sy jong dae ’n lewendige myndorp, maar al wat oorgebly het is hierdie karaktervolle eetplek en ‘n harde klimaat. Die eienaar vertel my dat sneeustorms eintlik maar reg deur die jaar voorkom. Ek drink stadig aan my koffie en loer deur die venster na die groot Amerikaanse flag op die stoep - hy wapper hard en in die verkeerde rigting. Ek wil sommer die hele dag hier bly, maar ek is nou skaars oor die helfde van my pad deur dié koue woestynwêreld.
Die Great Divide-bergfietsroete het ook sy eie wedren wat jaarliks plaasvind. Hulle trap van noord na suid en het pas in Banff, Kanada weggespring. Ek ontmoet vir Ty Domin, ‘n Australiër en een van die min wat stop om te gesels - die ander lyk heeltemal te ernstig. Boonop is Ty ook die voorloper in die enkel-spoed kategorie. Hoe mens hierdie passe trap met net een rat weet Ty alleen. Hy beoog om die 4 450 km reis in minder as 20 dae te voltooi. Ek respekteer sy vermoë en veral die feit dat hy stop om so lank te gesels, maar ek is bly my avontuur is nie ’n resies nie.
Met die wind wat my pla vorder ek net 75km vir die dag. My voorrade is min en ek moet eenvoudig net Pinedale - nog 100km verder - môre bereik. Ek besluit om baie vroeg weg te spring - wanneer die wind nog stil is. Met die lang somersdae word dit al amper ’n uur voor sonsopkoms lig. Ek is 4:30 vm in die pad en beleef van die mooiste natuurskoon nog op my reis. Die anderwêreldse landskap - waar die hoë woestyn se grasvelde stadig met alpiene woude begin meng - verskyn stil onder die oggendson se sagte kleure. Rooi, oranje en pers en dit alles met die wit, sneeu-bedekte Wind River bergreeks as agtergrond. Met my vroegoggend-energie en die wind wat nooit opkom vandag nie, bereik ek Pinedale sommer al voor middagete.
Ek maak weer die fout om die kruidenierswinkel te besoek voor ek iets geëet het. Jou liggaam gryp na alles en later wonder jy wie jou aan al die kos gaan help dra. Terwyl ek later ontspan met ’n bier in my hand, besef ek hoe die wind my indirek hierdie ongelooflike mooi dag laat beleef het. Hoe harde tye die beste stories maak. Hoe daardie gevoel van bevrediging net sterker word met elke druppel sweet. Hoe koud hierdie bier nou voel en hoe alles eintlik altyd so mooi in balans is.