rowwe aarde

Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada.  Hierdie is die agtste storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:

Ek is besig om alles wat ek nodig het om te oorleef – met selfs ‘n bietjie meer – oor die Amerikaanse Rocky-gebergtes te sleep op my fiets.  Dit klink dalk indrukwekkend, maar as mens eers sien met hoe min jy eintlik oor die weg kan kom en ook terselfdertyd besef dat die menslike liggaam – met genoeg tyd en energie – tot amper enige iets in staat is, voel alles eintlik baie natuurlik.

Hier in Montana – die vyfde staat van my bergfietstoer – het die paaie ‘n bietjie rof begin raak.  Soms verdwyn hulle eintlik.  Jy wonder of jy verdwaal het, want waar jy ry lyk meer soos ‘n opgedroogde stroompie as ‘n pad.  Rotse, klippe, sinkplaat en boonop verskriklike steiltes.  Ek het al van tevore in sulke toestande gery, maar nou is dit elke dag, elke pad.  Hulle sê dat die paaie daar in die suide meestal vir bosbou uitgelê was.  Bosbou trokke moet wyd draai en ‘n wye draai maak ‘n plat pad.  Hier in die noorde is dit mynbou wêreld.  Kort trokke wat vinnige paaie op en af soek.  Dit maak seker sin, maar op hierdie pad waar ons nou beland het sal geen trok – met steenkool of boomstomp – ry nie.

Lievin Steenberg is saam met my.  Ons het ‘n paar dae gelede op die pad ontmoet naby Montana se grens.  Lievin is van België en is ook besig om die Great Divide-fietsroete te voltooi.  Ons albei mik vir Banff, Kanada, en het toevallig op presies dieselfde dag – nou 50 nagte gelede - uit Arizona vertrek.  Ons bevind onsself nou hier by die berugte Fleecer Ridge-pas.  Ek onthou dat ek van die pad gelees het tydens my toer beplanning.  Die afgelope drie dae is die pas knaend in ons gedagtes.  Boonop herinner elke ander fietstoerder wat ons van voor ontmoet, ons verder hieraan.   Hoe erg kan dit nou wees, het ek gewonder?  Dit is tog ‘n pad.  Wat bedoel hulle jy kan nie eens af ry met jou fiets nie?

Ons bergpas vanaf die dorp Wide River was reeds ‘n klein uitdaging op sy eie, maar niks waaraan ons nie gewoond is nie.   Met die eerste sien van Fleecer Ridge begin ons sommer lag.  Om ‘n draai, ewe skielik, eindig die pad teenaan ‘n muur van ‘n berg.  Iets wat soos ‘n pad lyk stoot teen die bergmuur op, maar dit kan mos nie ‘n pad wees nie?  Wat het geword van die goeie ou pas wat ‘n kontoer deur die vallei volg?  Wie was nou só haastig?  Ons lag raak gou op en soos ons in stilte staar na bo besef ons dit is tyd om ‘n plan te maak.  Nie net sal ons moet stoot nie, die fietse sal een vir een moet op!

Lieven se fiets is die swaarste so ons begin met hom.  Die volgende 500m gaan teen ’n gradiënt van 38% styg.  Dan wag daar nog 1 km teen 16%.  Daardie passe oor die Drakensberge - op pad see toe in Desember - hang op so tussen 6 en 8%.  Lieven stoot voor aan die handvatsels en ek, met my skouers teen die gelaaide fietssakke, druk van agter.  Die wegspring is net ’n geglyery en ons maak geen vordering nie.  Ons stuur die grasveld langs die pad in.  Die grasknolle bied nou vastrapplek, maar ook verdere struikelblokke vir die fietswiele.  Soos met enige groot uitdaging, breek ons hierdie een in kleiner happies op. Ons vorder so vyf meter op ’n slag.  Een, twee, drie, stoot!  Een, twee, drie, stoot!  Sommer in Afrikaans.  Die Flander kan mos verstaan.  Tussen-in is daar min rus.  Die swaar fiets wil net bergaf en ons moet hard druk net om hom op een plek te hou.  Dit is so bietjie senutergend.  Verder maak die steil pad dit moeilik om te sien hoe vêr ons nog moet gaan.  Met sweet wat van ons kenne drup kyk ons met elke breuk op, maar ons kan net ’n paar meter voor ons sien voor die steilte verdwyn oor die berg se rand. 

’n Bietjie verligting later kom met die pad wat stadig platter begin word.  Nou kan ons ten minste op die pad stoot.  Met harde asems en nat, sout-gevlekte klere het ons die eerste fiets bo.  Ons gaan sit langs die fiets en kyk stil vir mekaar terwyl ons net ons koppe skud.  Selfs om af te stap op die pad is senutergend.  Ons trap met stadige baba treetjies om my fiets te gaan haal.  Rondte twee.  Een, twee, drie, stoot!

Na ongeveer twee ure het ons al twee fietse bo en besluit om sommer net hier middagete te eet.  Om ons is nou donker wolke met swaar reën wat plek-plek uitsak.  Ons eet en probeer ontspan terwyl ons met een oog die weer dophou.  Met die wete dat ons nou oor Fleecer Ridge is besluit ons om sommer tot by Butte te trap.  Dit sal ’n harde dag oor 130km se grondpad wees, maar daar wag ’n stort en ’n goeie bord kos.  Selfs ook ’n koue bier. 

Na ’n lang afdraande begin ons weer klim.  Ons moet weer ‘n kontinentale waterskeiding oorsteek.  Dit beteken gewoonlik steil paaie, wie weet hoe Montana sin lyk.  Dit is alles ‘n bietjie mal - Montana Madness doop ons dit.  Ons vorder stadig en besef dat dit makliker sal wees om te stoot, maar ons bly met trots sit op die sale. Laatmiddag is ons weer terug in die onheilspellende bos.  Geen mens of geluid, slegs die onsigbare teenwoordigheid van Grizzly-bere.  Lieven hier by my help vandag om die Bosbang gevoel teen te werk.  Met ons bene aan die brand bereik ons die waterskeidinglyn terwyl die son baie laag lê.   Hier kyk ons uit oor Butte, so 500m onder in die vallei.

Butte is ‘n stad met die gevoel van ’n klein myndorp.  Hierdie is groot mynwêreld en ons ry daagliks by ou skagte verby.  Butte is self die tuiste van ’n gewese kopermyn.  Die stad lê om ‘n 1.5 km wye gat.  Net langs die gat sit die ou middestad op ’n heuwel met bruinsteen geboue in ’n ry: “Uptown”

Die volgende dag trap ons aan en – met ons roete wat deur Uptown vleg – is ek dadelik spyt ons bly nie hier vir ’n dag om die plek te verken nie.  Boonop voel ek onrustig.  My familie in Kanada – by wie my toer sou eindig – se dorp Williams Lake is gister ontruim oor erge veldbrande in die area.  Waarheen is ek dan nou oppad?  Oor die volgende paar dae stoei ons oor nog baie rowwe en steil paaie in die dag, terwyl ons elke aand - met fyn beplanning - ons kos vir die bere wegsteek. 

In die middel van nêrens bereik ons ’n paar dae later Barbara’s Cabin.  Dit is ’n gewilde plek onder die fietstoerders, met rede.  Barbara Nye het dié houthuisie spesiaal vir ons op haar plaas opgerig.  Sy verwelkom my en Lieven met ’n yskoue bier en gaan wys ons die karaktervolle plekkie.  Daar is ’n stort, ’n kombuis met rakke vol kos en ander bederf dinge soos ’n groot bottel vol gestop met M&M sjokolade bolletjies.  ’n Klein stoep bied ’n wye uitsig oor die plaas.  By die leer op is sagte beddens.  Ek slaap nou al ‘n maand aaneen in my tent so hierdie is groot bederf. 

Met ’n groot gesukkel kry ek myself om vir Lieven te sê dat ek van môre af weer op my eie wil ry.  My uitdaging was om alleen hierdie groot reis aan te pak met fiets en bagasie.  Ek twyfel egter dadelik oor my besluit.  Daar is hoofsaaklik twee soorte fietsryers wat jy op dié roete ontmoet.  Die een soort vertel jou dadelik – sommer in een sin - hoeveel keer hulle al die roete gery het, hoe lig hulle fiets is en hoeveel kilometer hulle op ’n dag ry.  Lieven is van die ander soort.  Hy is hier vir avontuur deur die verkenning van natuur en  die ontmoeting van ander mense.  Ek het die week saam baie geniet.

Die aand in my bed – Lieven reeds vas aan die slaap – voel ek ’n klein aardbewing diep uit die aarde se maag.  Daar was glo ’n redelike groot een ’n paar dae gelede in die area.  Mense praat van glase wat van rakke afgeval het.  Hierdie is seker een van sy naskokke.  

Die aarde hier in Montana, is rof.