swart wolf
Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada. Hierdie is die tiende storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:
Al het ek die Swart Wolf vir net ‘n vlietende oomblik gesien, sal sy beeld vir altyd helder in my herinneringe bly. Die reusagtige dier se kop was trots omhoog gelig. Op sy gevreet was daardie oopmond glimlag van ‘n uitasem hond en van kop tot stert was hy bedek met lang, dik swart hare. So het hy, met kop, lyf en stert in gesinkroniseerde harmonie, rustig oor die pad gedraf. Die enkelspoorpad deur die ruie woud het reeds nou gevoel, maar nou het alle ruimte verdwyn. Nou was dit net ek, die woud en ‘n wolf wat iewers vanuit die donker skaduwees na my loer.
Ek het so drie dae gelede Kanada binne getrap. Tussen warm son en teer het ek saam met bakkies en Harleys in die ry gewag, ‘n vinnige stempel in my groen boekie gekry en ‘n nuwe land ingevaar. So net na ‘n grens lyk alles mos maar nog presies dieselfde. Behalwe vir die groot borde hier wat motoriste in kennis stel dat 100km/h nie dieselfde as 100mp/h is nie.
Die VSA het my vriendelik gegroet. In Eureka – my laaste stop in die land – kon ek lekker verniet kamp in die dorp se park. Die stadsaal langsaan het selfs ‘n stort ook gehad. Twee bekende fiets roetes loop deur Eureka en dit is die dat die dorp so gaaf is. Die weeklikse plaasmark was ook aan die gang. Ek het my tent rustig eenkant opgeslaan en aandete begin kook met ‘n feestelike atmosfeer voor my. Links van my tent was twee Nederlanders wie pas Banff verlaat het. Hulle is met die Great Divide-fietsroete op pad suid. Dié twee het rustig agteroor gelê met koffie in die hand en so ook deel van die jolige mark gevoel. Regs van my tent was ‘n hawelose man, John.
John het ‘n fiets en ‘n tent - net soos ons - en terwyl ek die volgende oggend ontbyt maak op die park se bank, kom sit hy vir ‘n geselsie. Hy het gisteraand verdwyn en pas teruggekeer. John vertel my dat hy nagskof werk iewers in die dorp. Met die kraak van ‘n vroegoggend-bier voeg hy by dat hy wel ‘n huis in die dorp besit, maar dit is vir hom baie lekkerder om in die park te slaap. Ek voel ongemaklik omdat hy voel hy moet vir my jok.
In Kanada woon 90% van die bevolking binne 160km vanaf die VSA grens. Dit is duidelik sigbaar in my eerste paar dae. Die aarde dra swaar aan die digte bevolking. Waar daar nie dorpe is nie, is daar dig gepakte plaashuise. Waar die huise ophou begin die myne en tussendeur beweeg duisende motors en reuse trokke. Op die grondpaaie laat hulle digte stofwolke wat uitdaging bied vir sien en asemhaal.
Deesdae ontmoet ek daagliks minstens vyf ander fietstoerders op die pad. Die meeste is op pad suid soos die twee Nederlanders. Nou - in laat Julie - is die beste tyd hiervoor sodat jy die warm dele van Nieu-Mexiko in die herfs kan bereik. ‘n Klein gemeenskap ontstaan eintlik op die pad. Almal gesels met mekaar en almal deel stories van roetes, weerstoestande, padtoestande en natuurlik Grizly-bere.
Deur dié mobiele gemeenskap het ek reeds lank gelede van ‘n gebreekte pad gehoor waarby ek op my tweede dag arriveer. ‘n Verdwynde pad is ‘n meer akkurate beskrywing. Daar was ‘n rotsstorting vanaf die berg bo wat alles onder – insluitende die pad – in die rivier gegooi het. Na noukeurige berekeninge het ek my fiets afgelaai en alles stuk vir stuk teen die styl en klipperige helling afgedra. Onder moes ek alles weer aanmekaar sit en, verder af teen die rivier, ‘n styl spoor terug na die pad vind. Dit klink dalk soos ‘n gesukkel vol irritasie, maar op fietstoer – met al die tyd op jou hande – is dit maar net deel van die dag avontuur.
Op dag drie begin mooi natuurskoon darem weer stadig verskyn op my roete en hier, in die digte woud, staan ek nou stokstyf met hoendervleis tot in my tone. My oë kyk styf na die presiese plek waar daardie wolf sopas die woud ingedraf het. Ek sal nou daar moet verby ry. Met opgeboude moed trap ek stadig aan - ek kan tog nie nóú omdraai nie. My hande bestuur die fiets op hulle eie want my oë kyk net na agter.
Ek ontsnap darem ongedeerd en ontmoet later ‘n Kanadese paartjie wat in die bos rondrits op hul vierwiel motorfiets. Met opwinding vertel ek hulle wat ek sopas gewaar het. Dit het gelyk soos ‘n wolf, maar hy was pikswart, vertel ek. Met oë wat strek sê hulle ja, dit is ‘n Swart Wolf, en voeg by: “Is jy op jou eie?”
Dit is blykbaar baie ongewoon om een van hierdie mooi diere te sien. Ek voel sommer gelukkig deur die res van die dag terwyl ek stoei teen ‘n baie lang en aanhoudende opdraande. Ek is besig om my twintigste en laaste kontinentale waterskeiding oor te steek. Hierdie passe kan jy voel! Hulle is altyd steiler en langer as die ander. Laat die middag bereik ek die bopunt sonder asem en geniet die lang – maar rowwe – afdraande tot by Boulton Creek. Hier is weer baie lewe – ‘n verligting na my dag alleen tussen bos en wolf.
Nou is dit net twee dae se trap na Banff, maar ek is so opgewonde dat ek besluit om eerder baie vroeg weg te trek en dit in een dag aan te pak. ‘n Dag waarop ek die mooiste natuurskoon nog op my reis sal beleef.
Dit is hier in Kanada waar ‘n mens kan sien waarom hulle die Rocky-gebergtes genoem word. Al die bergpieke is kaal rots wat lyk asof hulle deur die aarde se wand geskeur het. So het hulle seker gemaak dat gras en woud slegs hulle voete sal bedek. Tussen kop en voet is daar ‘n skerp kontras van nie net die tekstuur nie, maar ook in die kleure. Hierdie bergpieke het so ‘n skelm-blou kleur. Elke keer as jy daarna kyk wonder jy of dit blou is en elke keer besef jy dat dit werklik blou is. Die kleur is sag en vreemd, so asof ‘n dun laag mis permanent oor die oppervlak rus.
Tussen die berge lê Kanada se asemrowende turkoois mere. Dit is amper onwerklik dat water van nature so kan lyk. Sediment, wat die reënwater van die berge afvoer, is glo verantwoordelik vir die kleur. Dit maak sin, want weereens is dit so ‘n skelm skakering wat jou elke slag twee keer laat kyk.
Tussen die mere vloei sterk riviere en stroompies met deurskynende water. Langs meer en rivier is groen woude met kronkelende, dun fietspaaie van waar ek alles beleef.
Dit is moeilik om vordering te maak omdat jy om elke draai moet stop om hierdie ongelooflike natuurskoon in te neem. Boonop is daar die opwinding van ‘n groot uitdaging se einde wat in sig lê. Na amper 5000km lê Banff – die amptelike eindpunt van die Great Divide-fietsroete - nou ‘n klipgooi van hier.
Die afgelope twee maande het ‘n goeie aantal uitdagings op die roete gebied en vir oulaas is die laaste paar kilometer geen uitsondering nie. Steil en klip-bedekte paaie sit my op ‘n slakkepas terwyl beer-vrees my eintlik baie vinniger wil laat vorder. Oor die laaste paar kilometer begin die pad klou aan die Bow-rivier. Ek weet Banff lê op die rivier en ek voel die eindpunt nader kom. Later word die pad weer beter en ek jaag met opwinding oor die laaste stuk.
So, ewe skielik, val ek by Banff se agterdeur in. Die bekende Banff Springs Hotel se agterdeur om presies te wees. Die grondpad eindig in ‘n parkeerterrein en verder is daar niks. Geen wenstreep om oor te ry nie. Geen bord of teken wat wys hierdie is die einde nie. Niemand om jou geluk te wens nie. Slegs klein groepe mense wat plek-plek rondstaan, stilweg gesels en normaal aangaan met wat ook al hulle vandag mee besig is.
Om die oomblik groter te maak wil ek skree, maar ek besef skielik dit is eintlik perfek. Ek het Tucson verlaat met ‘n spesifieke reis-filosofie: Dit moet nooit gaan oor die eindpunt van elke dag of staat of pas nie. Ook nie oor die algehele einde nie. Dit moet gaan oor elke oomblik op die pad. Elke oomblik tussen al die eindpunte. Dit was nie moeilik nie, want elke oomblik was onvergeetlik. Ek hoop dat my lewens-filosofie nou kan begin baat by hierdie reis-filosofie.