montana en meer
Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada. Hierdie is die negende storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:
Met ‘n swaar gelaaide fiets kruip jy teen ‘n geweldige steil grondpad op. Baie stadig. Daar is net genoeg spoed om balans te hou. Groot, vet klippe bedek die oppervlak waar jou wiele probeer vastrapplek kry en soos jy die klippe probeer vermy, maar eintlik net oor hulle ry, veg jy teen die ekstra klein opdraandes wat elke klip verder bied. ‘n Baie warm son uit die weste voel of hy op jou vel rus met geen lug tussen nie. Jy haal hard asem en probeer op dieselfde tyd om baie fyn stof uit jou longe te hou. Tussendeur dié geveg voer jy, met een hand en die hulp van jou hoed, ‘n oorlog in die kleine met reusagtige steekvlieë terwyl jou ander hand steeds balans probeer hou. Die Montana Madness duur voort, maar soos altyd is die beloning groot.
Die woud word nou net digter, groener en hoër terwyl asemrowende mere nou tussendeur begin verskyn. Elke meer het ‘n ander kleur. Soms is hulle langs die pad. Ander kere sit hulle weggesteek met net een verskuilde pad wat jou daar kan kry. Hulle bied ‘n uitsig oor middagete, vergesel jou tent in die aand en koel jou lyf af in die laatmiddag.
Ek mik tans na Whitefish in die noorde van Montana. Op my kaart sien ek nou oral mere en daar wag ‘n groot een voor. Dit lyk perfek vir ‘n rusdag. Die lang somerdae hier in die noorde beteken lang afstande. Dit put my uit, maar ek het nou al geleer dat die afstand self nie die probleem is nie. Dit is die verwagting wat ek elke slag vooraf vir myself skep wat saak maak. Die lewe is mos eintlik ook maar so.
In die Helena Nasionale Woud neem ‘n 700m hoë en aaneenlopende pas my oor my toer se tweede laaste kruising van die kontinentale waterskeiding. Die verlate cowboy dorpie Lincoln wag aan die voet van die heuwel na ‘n lang afdraande. Na middagete – in ‘n plekkie wat doodstil word soos almal jou aankyk wanneer jy instap – pak ek die tweede pas vir die dag aan. Nou weer 600m op en oor na Ovando. Hier is geen kampplek nie, maar die tannie by die kroeg vertel my dat fietsryers glo in die dorpie se tronk mag oornag. Die tronk? Ja sê sy, dit was die ou tronk – of Hoosegow soos hy bekend staan - maar is nou ‘n klein museum. Jy kan $10 in die blikkie gooi, die deure toemaak en daar slaap. Dit het geklink na ‘n winskopie, maar na ‘n baie warm aand op ‘n vreeslike ongemaklike bed, weet ek van beter toe ek die oggend daar uit loop.
Die temperatuur begin nou rondom 40°C draai. Die natuur is droog, maar ‘n geweldige swaar vogtigheid hang in die lug. Nou en dan vind ek ‘n klein bergstroompie wat die laaste bietjie sneeu-smelt vanaf die pieke afbring. Met groot verligting maak ek elke slag my hemp en hoed nat en val dan weer in die pad. Later verdwyn die grondpad met net klein enkelspoor paadjies wat oorbly. Regs is ‘n diep vallei wat om elke draai ‘n ander ongelooflike uitsig bied. Links is daardie digte bos waar die bere wegkruip. Ek maak geraas en fluit soos ek ry, solank hy my net hoor voor hy my sien.
Die volgende dag is ek op pad na Ferndale. Op en af paaie, saam met ‘n moeë lyf, maak dat ek stadig vorder. Boonop het ek my eie reël oor verwagtinge ook gebreek toe ek teen middagete besef dat my bestemming baie verder is as wat ek aanvanklik uitgewerk het. Met 100km klaar agter die rug begin die laaste uitdaging vir die dag: ‘n 500m pas net voor Ferndale. Ek trap op en op en op. Ek vorder baie stadig en dit voel of ek nooit die dorp gaan haal nie. Later besef ek daar berus werklikheid in dié gevoel. Ek dink ek het verdwaal. My kaart wys ek is verby die afdraai, maar ek het niks gesien nie. Ek ry weer af, maar daar is geen afdraai nie. Nou moet ek weer op. Ek het nou baie lank terug enige lewe gesien, die son is besig om te sak en my kos is op. Ek raak bietjie senuagtig en besluit om net voort te gaan. Dit is ten minste Noord - die regte rigting. Oor die pas kry ek spoed en met verligting begin ek weer tekens van lewe sien soos Ferndale se vingers stadig deur die woud begin verskyn. Op die dag kry ek toe ook my eerste pap wiel van my toer. Dit na 4000km, so ek kon nie kla nie.
Whitefish lê nou net 60km verder en die volgende oggend begin ek met ‘n rustige pas. ‘n Paar dorpe en stede lê na aan mekaar hier, maar dit is eintlik alles een groot plek. Super Suburbia dink ek soos ek by die huise verby ry. Dit lyk soos die gewone Noord-Amerikaanse voorstad, maar elke erf is so groot soos ‘n plot. Elkeen natuurlik met twee of meer motorhuise en daardie wit heining.
By Whitefish en sy mooi meer rus ek vir ‘n dag. Ek diens gewoonlik self my fiets, maar hy benodig nou ‘n paar professionele hande. Terwyl dit gebeur gaan knip ek selfs my baard vir ‘n slag. Ek raak ‘n bietjie selfbewus oor my voorkoms, veral wanneer sekere motoriste nie stop as ek wil aanwysings vra nie.
Na ‘n middag se trap uit Whitefish bereik ek Red Meadow Lake. Ander fietsryers vertel my nou al ‘n week lank van dié mooi plek. Dit is weer 800m op. Bo skuur die enkelspoorpad styf langs die meer verby met ‘n klein oopte vir ‘n tent of twee. Dit is doodstil en kalm. In die verte is ‘n man besig om vis te vang en hier nader staan ‘n RV geparkeer waar ‘n ander man sy seun die geheime van visvang leer. Die groen berge wat oral om die meer lê se spieëlbeeld word perfek gereflekteer op die meer se seepgladde, roes-kleur water.
Ek slaan my tent op en spring dadelik in die meer. Met die pragtige natuurskoon en lekker water voel dit of ek vir ewig net hier op my rug kan lê, maar soos altyd op fietstoer, is ek baie honger. Ek begin vroeg aandete kook en ontmoet vir Alexander Gill wat pas sy tent langs myne opgeslaan het. Alexander het ‘n week gelede met die Pacific Northwest-staproete begin. Dié 1800 km staproete begin aan die oostekant van Montana, klou styf teen Kanada se grens en stuur deur ‘n hele paar nasionale parke, tot by die see in die staat Washington. Later stap Aaron Shoemaker ook nader. Aaron is - soos ek - besig met die Great Divide-bergfietsroete en het 5 dae gelede Banff, Kanada, verlaat. Hy is op pad suid. Sy pad is nog vêr.
Die drie van ons maak saam ‘n vuur en deel stories van avonture op voet en wiel. Ons ontmoet later die man en seun uit die RV. David en sy seun Hunter hou vakansie hier vir ‘n paar dae. Pa leer seun visvang terwyl pa ook sy stokperdjie as radio-operateur kan beoefen. David se bakkie is vol antennas en so gesels hy met mense regoor Amerika. Soms in morsekode, ander kere sommer net ‘n vinnige hallo aan allerhande vreemde mense op vreemde plekke. David loop rond met ‘n pistool aan ‘n holster onder sy arm. Ek dink hy slaap ook dalk so. Hy sê dit is vir die bere en voeg by dat ons net moet skree as een ons pla vanaand. Hy het glo ook ‘n hele paar ander gewere in die RV. Later kom staan John – die man wie ek vroeër op die bootjie daar vêr gewaar het - ook by ons. John skryf visvang gidse en is besig om sy inligting oor Red Meadow Lake op te knap.
Nou staan almal wat vanaand langs hierdie afgeleë meer in Montana slaap, gesellig in ‘n kring met ‘n glas vol Whiskey wat David gaaf uitgedeel het. Elkeen het sy eie rigting en elkeen het ‘n storie. So gesels ons tot laatnag asof ons mekaar vir jare al ken.
Die volgende oggend vroeg – verlig dat ek nie David se haelgeweer deur die nag benodig het nie – pak ek my fiets, geniet ‘n laaste uitsig oor Red Meadow Lake, en trap verder Noord. Nog net een dorp dan is ek in Kanada. Ek besef dat die einde van my toer nou in sig is. Dit is opwindend dat ek nog op koers is na twee maande se trap, maar ek besef klaar hoe baie ek alles gaan mis. Veral tye soos gisteraand waar die beste elemente van fietstoer – lekker mense en mooi natuurskoon – so perfek bymekaarkom.