laaste dae

Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada.  Hierdie is die elfde - en laaste - storie van sy reis. Vind gerus die vorige stories hier:

Daar is ‘n sekere soort rustigheid wat oor my kom slegs as ek treinry.  Ek is nie presies seker waaruit dié rustigheid ontstaan nie.  Miskien is dit die manier waarop hy so saggies wegtrek.  So saggies eintlik, dat dit soms voel of dit eerder die landskap is wat begin beweeg.  Miskien is dit die stil geruis van sy swaar gewig op die gladde spoor – yster op yster.  Miskien is dit die waggelende beweging wat jou lyf stilweg heen en weer meevoer.  Of dalk is dit die uitsig deur die groot venster waardeur jy die aarde se stil verbygaan rustig kan aanskou.  Ja, die lekker koue bier in my hand help ook. 

Die reisskrywer Paul Theroux het altyd baie mooi woorde te skryf oor treinry.  Theroux was al amper op elke spoor in die wêreld.  Ek voel nes hy elke slag as ek ‘n trein sien of hoor: 

“I have seldom heard a train go by and not wished I was on it”. 

Ek het dié trein al lank terug daar in Tucson gesien en, tydens die beplanning vir my toer, dadelik besluit dat hierdie my pad terug huis toe sal wees.  Vir my is die beste vervoermiddels ‘n fiets en ‘n trein.  Ek voel gelukkig om albei op een avontuur te kan beleef.  My fiets ontspan self lekker daar in die agterste wa.

Ek en die Belgiër Lieven het so week gelede ons bergfietstoer in Jasper, Kanada, voltooi.  Erge veldbrande het my verhoed om, soos wat ek oorspronklik beplan het, na my familie se huis in Williams Lake te trap.  Ek het vir Lieven weer in Banff raakgeloop en so het ons besluit om weer as ‘n span die laaste 300km aan te pak.

Hierdie laaste trek was rustig – eintlik luuks.  Kanada se berugte Ice Road het ons deur twee nasionale parke, verby goed ingerigte kampterreine en oor gladde teerpaaie geneem tot in Jasper, waar ek net-net die 5000km merk vir die toer gehaal het. 

Die Ice Road is bekend vir al die gletsers wat weerskante op die pieke rus.  Ek word weer herinner aan die sensitiwiteit wat fietsry aan jou ervaringe bied.  Hierdie pad het ek al vantevore gesien uit ‘n kar.  Ek onthou dit was mooi en daar was baie gletsers, maar nou beleef ons die pad.  Elke gletser word persoonlik ontmoet.  Jy sien hom al van vêr en soos jy stadig verby ry, aanskou jy elke aansig wat hy bied.  Jy beleef hoe hoog hy sit, hoe dik hy is en elkeen laat jou in verwondering oor die duisende jare wat binne vasgevang lê. 

Tussendeur al die gletsers is daar natuurlik ook nog Kanada se turkoois mere wat stil langs die pad lê.  Elkeen met ‘n kampterrein op sy rand wat dit moeilik maak om te besluit waar ons wil oornag.  Op ons eerste aand uit Banff kom ons egter af op ‘n verlate kampterrein.  Dit lyk of hy besig is om herstel te word op die oomblik.  Na ‘n lang ontleding en gedink besluit ons om hier te oornag en gaan steek onsself vêr agter weg.  ‘n Stroompie bied water en die kragproppe werk selfs.  Dit is verniet en perfek. 

Diep in die nag skrik ek egter wakker met ‘n halwe hartaanval.  ‘n Bakkie stop amper bo-op my tent met sy ligte wat my halwe oop oë verblind.  Ek sit regop en doodstil so asof ek kan wegkruip.  Die bakkie staan vir lank so, maar ry later tot my verligting stadig weg.  Die volgende oggend besef ons dit is ‘n opsigter van die bouterrein.  Sy huis lê versteek by die ingang.  Ek vertel die storie vir Lieven, maar hy weet van niks nie.  Sy oorpluisies het hom dié drama gespaar.

Tydens ons voorlaaste dag breek een van my fiets se speke.  Op ons Circling the South fietstoer deur Afrika in 2010 het ons amper daagliks ‘n verdomde speek vervang.  Ek het dieselfde verwag op die toer, maar hierdie is die eerste een.  Behalwe vir een pap wiel is dit die eerste van enige fietsprobleme. 

Honeymoon Lake is die laaste kampterrein en stopplek vir die toer.  Ek maak vinnig die wiel reg sodat ons vir oulaas in ‘n meer kan spring.  Net soos al die vorige mere wat ons al gesien het op die toer, voel dit of dié een die mooiste is.   ‘n Paar stoute kinders speel op die wal en wys vir ons hoe hulle besig is om een van die meer se permanente inwoners – ‘n vet bloedsuier – te dissekteer.  Daar is glo baie in die meer.  Nou wonder ek oor swem, maar Lieven spring amper dadelik in en ek - uit groepsdruk - volg daarna.

In Jasper sluit ons dinge af met ‘n groot bier en gesels lekker oor al die avonture wat ons beleef het gedurende die vorige twee maande se reis.  Ons het beplan om miskien van hier af nog na Vancouver te trap, maar die tyd het ons gevang.  Die volgende oggend – met fietse en bagasie gelaai in ‘n huurmotor – pak ons die 8 ure se ry aan na Vancouver.  Nou sit ons in ‘n kar, maar ons lywe voel nog die fiets.  Ons merk elke heuwel op en tydens elke afdraande mis ons die wind in ons hare. 

Dit voel vreemd om weer in ‘n groot stad te kom na so lank in die wildernis.  Al die liggies, karaktervolle mense, vuil strate en baie karre.  Stede voel gewoonlik net soos een groot gejaag, maar nou, na so ‘n rustige lewe in die bos, is dit amper al wat ek sien.  Ek staar na elke kar en mens en wonder waarna hulle so haastig op pad is.  Dit is amper oorweldigend, maar tog geniet ek al die lewe.  In die aande waartydens ek so bang en alleen in my tent was, was my wens om hier te wees altyd groot.  “Ek verlang na die stad en die warmte van mense” sou ek skryf in ‘n pikdonker tent met die suis van die wind buite deur die bome.  Nou is ek hier by stad en mens.

Vancouver is ‘n lekker plek.  Vriendelik net soos die res van Kanada.  ‘n Stad geweef tussen mooi natuurskoon en berge.  Net soos Kaapstad.  Ek en Lieven verken die plek op ons fietse.  Met die afgelaaide bagasie is hulle lig en ons ry sommer wye draaie.  Elke nou en dan beplan ons om vir ‘n bier te gaan, maar eindig eerder op met vrugte en neute - die fietstoer-honger het nog nie gaan lê nie.  Op die laaste dag kom ons darem by daardie bier uit en neem afskeid.  Lieven is op pad terug na Europa.  My trein vertrek môre suid na Seattle en dan verder na Arizona.

Na ‘n paar lekker dae saam met my vrou in Seattle, trap ek my laaste paar kilometer na King Street-stasie in die middestad.  Daar is geen lang taxi rit na ‘n lughawe in die buitewyke van die stad nie.  Geen lang toue nie.  Geen sekuriteitspersoon wat op my skree terwyl ek my skoene moet uittrek nie.  Slegs die eenvoudige oorhandiging van my fiets en sak waarna ek my plek hier langs die groot venster kom inneem het.

Tydens die eerste dag beweeg ons stadig deur die woude en stede van Washington staat en Oregon en op die tweede dag is ons in Kalifornië.  Verby die staat se hoofstad Sacramento, en die buitewyke van San Francisco, bereik ons Central Valley – een van die mees produktiewe landbou gebiede ter wêreld.  In dié vallei - waar warm son en baie water so mooi bymekaarkom – groei enige iets.  Met die verbygaan bewonder ek al die plantasies se patrone vanuit die trein, maar op dieselfde tyd dink ek ook aan die oorspronklike natuurskoon wat hier moes gewees het, en nou nooit weer gesien sal word nie.

Laatmiddag bereik ons spoor die kuslyn.  Hier is die Kalifornië wat ons almal onsself indink: Groot, wye strande en die stil-blou water van die Stille Oseaan met ‘n branderplankryer op elke golf.  Ek wens ons kan iewers stop vir ‘n vinnige swem.  Dan, deur Santa Maria, Santa Barbara en Santa Monica, bereik ons Los Angeles laat die aand.  Ek verlaat die Coast Starlight trein en stap oor na die Sunset Limited .  Met name soos dié, hoe kan ‘n mens nie wil treinry nie!  Nou is dit net ‘n oornag rit na Tucson.

Die volgende oggend word ek vroeg wakker met die son wat sy eerste lig oor die Sonoran Woestyn begin gooi.  Met skrefies oë en ‘n glimlag volg ek elke Saguaro Kaktus wat verby skuif – met hulle arms so in die lug voel dit of elkeen my persoonlik terug verwelkom.  Ek bly nog nie lank hier nie, maar ek voel tuis.  Dit help ook dat iemand my inwag daar op die stasie.

Met die trein wat stadig tot stilstand kom - en daarmee saam my onvergeetlike avontuur – begin ek stadig my sak pak terwyl ek ‘n laaste uitsig deur die groot venster geniet.  Dit is net hier anderkant waar ek drie maande gelede my eerste trap gegee het.  Nou, na meer as 10 000km se reis oor die landskap van Noord Amerika, is ek hier.  Terug by die huis, maar vêr van die begin.