ewige troos

stefan mostert

20 april 2023

3,250 woorde

20 minute

‘n Suidkaap avontuur, gevul met berge, fynbos en ‘n paar bye


“ek ry nie meer nie

ek dra my kar waar ek wil wees”

hemelbesem


Om in te pak, is seker so moeilik vir ons omdat dit in die verlede tog baie stresvol moes wees. Die kos in die huis is op, die sneeu het nog net daar onder in die vallei begin smelt, en tussen die geselligheid van jou kaggelbrandende en kaneelgegeurde gehuggie, en daardie vallei, is daar bose gediertes wat juis net verlede naweek jou buurman verslind het.  Daar is geen selfoon of GPS of ultra light gear of selfs gereelde grondboontjiebotter te koop langs die pad nie.  Net jy, jou wapen en die son en die maan en die sterre.  Vandag het ons nie meer nodig om bere met ons kaal hande te verwurg nie, want nou het ons Uber Eats. Nou kan iemand anders maar deur die sneeu trek. My liggaam besef dit nie, so nou bly ek hierdie inpak storie uitstel. 

 

Ons hoef seker nie te bekommerd te wees oor hierdie algehele verswakking van die mensdom se braafheid nie, maar ons moet sekerlik bewus wees van wat die uiteindelike koste van hierdie voortdurende gerief in ons lewens vandag is.  Ons ou ewige troos: Die ingeboude algoritme om so veel moontlik plesier na te streef, en so veel moontlik stres te vermy.  Dis wat ons aan die lewe gehou het tot nou.  Die spesies waarin dié genetiese kode nie so sterk neergelê was nie, het al uitgesterf.  Dis mos wat Darwin sê.

 

Ons weet tog nou al dat niks in die lewe verniet is nie.  So, al was dit seker ongelooflik moeilik en stresvol om die kaggel op so ‘n ysige dag te verlaat, kan ons seker wees dat baie min mense vandag al enige iets gelykstaande ervaar het, as wat ‘n suksesvolle terugkoms na die huis sou gebied het vir ons oer-ouers: Vleis in die hand en die hoop en waardering vir ten minste nog ‘n paar dae se oorlewing.

 

Ons breine is mos verslaaf aan dopamien, gelukkig met wat dit het, tot daar ietsie beters op die horison verskyn.  So hou ons aan en aan en voor ons weer kyk, is ons besig om fotos van onsself te neem terwyl daar alweer ‘n nuwe kar in die voortuin staan, en die kookkuns van een of ander onuitspreeklike land besig is om te borrel op die stoof terwyl nog ‘n stroompie Klassieke Kaapse Landgoed Rooiwyn van jou tong afrol.  Wat vir ons oer-ouers die jaarlikse oesfees was, is vir ons Dinsdagaand.

 

Al hierdie filosofering oor my voorouers help wel nie om my fiets gepak te kry nie.  Alles is al uitgesit, maar om daardie altyd-so-effens-te-klein sakke te begin stop, is vreeslik moeilik.  Dis die laaste stap, daarna is dit wegtrek.  So nou sit ek eerder maar net en wonder oor alles, terwyl ek hoop dat my slaapsak homself sal verkrimp.

Uiteindelik is my fiets gelaai en verlaat ek Mosselbaai - en die kuslyn - op klein plaaspaadjies met ‘n trekker wat elke nou dan ‘n bol stof oor my gooi.  Vêr is die Outeniquaberge, en George by hulle voete, waarna ek stadig beweeg.

 

Naby die Outeniqua Pas is die laaste bietjie lewe op my pad, die buitewyk Blanco, net noordwes van George. Blanco, soos meeste van sy inwoners, is die vereniging van twee kulture wat mekaar jare vantevore hier op die suidpunt van Afrika – ondermeer vele ander plekke – ontmoet het.  Die een kultuur was ambisieus, georganiseerd en ongelooflik vyandig. Die ander was rustig, kleurvol, musiekvol, gesellig en warm.  Vandag het ons Blanco: Georganiseerd maar nie steriel soos daardie tipiese middelklas woonbuurt nie.  Los en gesellig, maar nie tot op die punt van uitmekaar val soos daardie tipiese informele voorstad nie.  Alles net genoeg.

Daar word gesê dat alles wat goed en die moeite werd in die lewe is, daardie delikate balans tussen chaos & orde behou.  Dit is Blanco, asook goeie musiek:  Ons soek die orde – die voorspellende ritme wat jou laat ontspan en jou voet laat tik – maar ons soek ook daardie tussenoomblikke van verandering - chaos - wat jou terug bring uit die bloute, en weer aandag laat gee. 

Solank jy eindig waar jy begin het – of ten minste op dieselfde hoogte bo seespieël – is Fietstoer as geheel ook ‘n vreeslike mooi dans op die drumpel van chaos & orde. Die helfte opdraande, en die helfte afdraande.  Presies! Elke opdraande is nael-kouende chaos en elke afdraande genadiglik ordelik.  Jy probeer die balans op elke oomblik bemeester: As die dag ongelooflik rof was, maar jy kan steeds in jou eie tent slaap, dan het jy daardie balans mooi getref.  As jy in die hospitaal se bed slaap, was daar so ‘n titseltjie te veel chaos op daardie spesifieke dag.  Om nie op te staan en te beweeg nie, is heeltemal te ordelik.

Die son blink laag teen die wit rotse wat plek-plek uit George Piek se groen valleie en koppe steek.  Daar is nie meer genoeg daglig oor om betyds oor hierdie gebergtes te kom nie.  Aand-ry is lekker-ry, solank jy weet waar jy slaap.  Met my laaste googlesein maak ek die nodige reëlings met Over the Mountain gastehuis.

Daar bestaan ‘n wiskundige formule – iewers, ek is seker daarvan – wat die Agterbergpadkonstant of so iets genoem word.  Dit sê dat vir elke een keer se afstand wat jy aflê, die helling van die pas twee keer vermeerder, en die kondisie van die pad drie keer verswak. Dit is seker wat maak dat hierdie passe my altyd onkant vang.  Dit maak nie saak hoeveel keer jy jouself herinner om die ergste te verwag nie, hulle oortref jou elke keer.

 

Met die laaste bietjie dieporanje lig oor die klein karoo se horison skuur ek uiteindelik oor daardie hoogste punt, en af na my warm bedjie vir die aand.  Die tannie is besig met ‘n sepie of koekbak of iets want sy probeer my vreeslik vinnig in my kamer in kry.  Ek gee my gehoorsame samewerking en soos sy wegstap, jaag sy die dominee se hond terug na die kerktoring se rigting, en skree terug na my: “Bel as jy iets nodig het, net nie te laat nie”.

 

Die volgende oggend tydens ontbyt op die gras, met die Swartberge in die vertes, ontmoet ek die bestuurder Alida. Vriendelik en klaarblyklik die een wat die gaste laat tuis voel.  Ons stedelinge dink mos sommer dat almal wat ons op ‘n klein plekkie ontmoet, nog altyd net daar was.  Daar is verseker ‘n paar individue wat slegs hulle tuisdorp – of selfs leefkamer –  sal verlaat vir ‘n Angus Buchan saamtrek.  Maar dan is daar ook Alida wat my vertel van hoe sy en haar laaities in die plaaslike bergpoeletjies swem, asook van haar lewe toe sy in Colorado gebly het.  Ek vertel vir haar dat ek nie altyd so seker is of ek vir die res van my lewe in Amerika wil bly nie, tensy daardie opsie in Colorado is.  Wat ‘n pragtige plek.  Ek sien sy stem saam.  Ons hoor die tannie skreeu na haar om te kom help aflaai.  Ek moet ook gaan.

Die middag is rustig op die Kammanassie wandelpad tussen klein plasies en gehuggies en natuurlik die Swart- en Outeniquaberge weerskante van my.  Groot op ‘n boer se buitegebou staan:

 

GOD

BOER

HIER

 

Maar ek sien steeds net vir Jonas op die trekker.  Al wat in sy lewe verander het oor die laaste 30 jaar, is dat dit toe sy pa was wat heeldag in die stof gesit het.

 

Laatmiddag geniet ek my Bobotie Roosterbrood wat Over the Mountain in my titanium houer verpak het, selfs met ‘n blommetjie en servet. Dis mos nou Die Klein Karoo! 

 

Ek druk deur en so uur na sonsondergang sien ek Uniondale se liggies, maar die dorp se beroemde ryloperspook is nêrens te sien nie.  Sy sien seker hier is nie plek vir ‘n lift nie.  Elke dorp het ‘n watergat en ek vang gelukkig Uniondale sin nog oop.  Agter die kroeg is ‘n oom, op die TV is krieket en langs my ‘n plaaslike jong paartjie – tjoepstil starend na die kassie.  Bobotie is alweer ‘n opsie, en mens weet mos wat hulle sê oor twee keer per dag Bobotie eet: Verseker! Toe ek halfpad met die Bobotie is, gee ek vir die oom die teken.  Ons het afgespreek - saam besluit eintlik - dat ek moontlik die Lasagne ook gaan benodig.

Vroegoggend hoor ek vanaf my gesellige warm bed dat Uniondale se strate nat is.  Daar is ook wind.  Hierdie gaan een van daardie lang oggende wees, waar elke ding wat jy doen, net so klein bietjie meer uitgerek word as wat regtig nodig is, sodat jy daardie oomblik van teen-die-wind-en-in-die-reën-fietsry, met net nog so bietjie kan uitstel. 

 

Langs my gastehuis is n koffiewinkel en ek gaan sit rustig en gesellig en loer na die reën en wind daar buite, wat ek op een of ander stadium nou moet aanpak, terwyl ek myself vreeslik jammer kry.  Eerste Wêreld Probleme. 

  

Maar my vooruitsig is opwindend:  Amper 100km suid na Knysna, waarvan 70km die Prins Alfred Pas is. Volgens my kaart Suid Afrika, en die pas se padingenieur Thomas Bain, se langste pas.  Na ‘n dag se trap sien ek laatmiddag ‘n klein rietdak stoepie wat rustig oor ‘n groen koppie hang. ‘n Bordjie sê Cloud Cottage en alles so saam klink vir my na ‘n goeie idee. 

 

Die vrou wat die grof afgewerkte plekkie vir my wys voeg by – so asof dit ‘n slegte ding is – dat hier nie krag is nie, en dat ek my eie warm water in die donkie moet stook. Stop! wil ek vir haar sê, ek het mos gesê ek vat dit.  Met my lyf skoon en my kleure uitgespoel is dit ek, my pen en ‘n klappende kaggel terwyl dag skemer word, en skemer in nag verander.  Daar is redelik min wat my so tevrede kan kry.

‘n Lekker oggendafdraande kry my tot by De Vlugt en by die motorfietsrusplek Angie’s G Spot - Hells Angles op die Keurboomsrivier.   Die bord op die pad lees:

 

HOT BEER

LOUSY FOOD

BAD SERVICE

KAK ACCOMMODATION

 

Toe liewe Angie oomblikke later rou roereier, pap toast en ‘n koppie Chicory voor my neer sit, besef ek skielik hulle was ernstig.  Om nog verdere sout te gooi op my middagetewond, val ‘n paar vervelige bye my aan, op my pad vanuit die Keurboomsvallei. Soos seker in enige geval waar ‘n mens skielik onder aangeval geplaas word, neem dit jou ‘n oomblik of twee om regtig te besef wat aan gaan.  Ek dog eers ‘n arme verlore bytjie het per ongeluk in my valhelm in gevlieg, maar besef toe vinnig dat daar aanvalle van alle rigtings en posisies in stroom.  Ek los die fiets en begin by die pas afhardloop, terwyl ek my sonserp om my kop swaai, soos ‘n helikopter wat sukkel om op te styg.  Op my sien ek bye wat - omgekrul in hulle steekposisies - alles gee om hulle angels in my te steek, en te sterf vir die kolonie.  Kamikaze Pilots.

  

Toe ek uiteindelik die laaste bliksemse by uit my lugruim verwyder, is ek meters weg van my fiets teen die pas af.  Tydens die oorlogdrama kon ek die nes sien, reg langs die pad waar my fiets nog staan.  Ek hardloop, gryp die handvatsels, en stoot verder teen die pas op.  Dit is wat fietstoer so vol avontuur maak: Die een oomblik wonder jy of daar nog ‘n Kaapse luiperd in dié berge rond hang, die volgende oomblik word jy deur ‘n spul bye aangeval.

Ek is nie seker hoe hulle besluit dat hierdie ons land se langste pas is nie - waar hulle begin en eindig met dié telling.  Vir my voel dit meer soos 5 klein passe.  Thomas Bain, die yster, het in ‘n loopbaan van 40 jaar 900km se bergpasse ontwerp en laat bou.  Dit is ‘n gemiddeld van ‘n halwe kilometer per week.  Nie te sleg nie, solank ons weet hy het dit laat bou, en nie gebou nie.  Jonas het dit gebou en Jonas het gesweet.  Jonas en span se name is nie by die Thomas Bain gedenkteken nie, waar ek nou so lekker staan en padfilosofeer. 

 

Die chaos & orde van fietstoer vorm ‘n ritme wat amper altyd deur twee bakens omsluit is:  Die radiotoring, altyd sigbaar tydens die laaste oomblik van die pas se opdraande, en dan die bruggie oor die rivier, amper altyd daar tydens die laaste oomblik van die pas se afdraande.  Wanneer die radiotoring afwesig is, of jy deur die rivier moet stap, dan is jy lekker vêr van die samelewing af.  Bain se gedenkteken lê weggesteek naby ‘n bruggie, oor een van die Keurboomsrivier se sytakke.  Tyd vir kafeïne en kalorieë.  Ek trek my skoene uit en rus my voete in die ysige bergwater. 

 

Later trap ek die Diepwalle Nasionale Park binne, die indringer dennebome ewe skielik weg en in hulle plek nog fynbos. Die hele wêreld bestaan uit slegs vyf blommewyke, die grootse is die Holarctic wyk. Dit is die hele noordelike halfrond. Die kleinste, en die rykste, is Fynbos.  Negeduisend spesies, waarvan twee derdes net hier voorkom.  Dis ‘n spesiale ding, maar dit weet ons mos.

 

Met die reuk van Bloekombome neem ek aan ek het die die nasionale park verlaat.  Ek het gewonder hoekom daar nie meer van daai idiliese cabins op my kaart is nie – ek soek nou slaapplek – maar besef toe vinnig wat aan gaan toe ek skielik die blêrende strate van Khayalethu in ry, kompleet met onvoorspelbare minibus taxi’s, en ‘n gesellige spaza-shop op elke hoek.  Nie die tipe strate waardeur jou gemiddelde Land Rover na die boendoes wil ry nie. Maar dis alles afdraande en so val ek sommer vinnig tot in Knysna gedurende Chailatyd.

 

Knysna is een van daardie plekke wat ongelukkig korrup lê onder die gewig van sy eie beeldskoonheid.  Soos amper elke restaurant met ‘n mooi uitsig, of soms mooi mense:  Die lewe word natuurlik na jou getrek, so jy hoef nie veel te doen om die lewe terug te bevredig nie.  Mense hoef nie juis te vriendelik te wees nie, plekke nie noodwendig baie verwelkomend nie, en strate nie noodwendig baie skoon nie. Want die meer en see en The Heads is daar, en daarom sal almal altyd terug kom, sommer so vanself.

My volgende bestemming is die Sewe Passe Pad, Bain se oorspronklike verbintenis tussen Knysna en George.  Hulle sê sewe passe maar dis eintlik meer soos 7 duike.  Jy klim tot op die plato, en dan val jy sewe keer af na ‘n rivier, en dan klim jy weer terug na die plato.  Dus is daar geen radiotoring nie, maar darem steeds elke keer die rivier en bruggie.  Ek is bly daardie osse was nie te sterk in die 19de eeu nie, want die hellings op hierdie paaie is billik.  Ongelukkig kry ek nêrens ‘n plek om my voete in die koue water te steek nie.  Elke keer is die brug te hoog vir veilige toegang, en tussen die brûe lê net privaatgrond. 

 

Ek besef hoe bederf ek is.  Dáár in Amerika se Southwest, waar ek en my familie tans woon, is yslike groot stukke publieke grond, of Nasional Forests, soos hulle dit noem.  Stukke van planeet aarde wat nie joune is nie, maar ook niemand anders sin nie.  Vry en verniet om in rond te beweeg, te kamp, te jag of wat ook al jou brein sy prikkels gee. Dit is my gunsteling ding van die Verenigde State van Amerika.

Op hierdie aand kry ek uiteindelik ‘n geleentheid om my tent op te slaan by Peace of Eden Forest Retreat.  Koel berg lug en sagte groen gras onder wemelde skaduwee kolletjies. ‘n Skoenlapper of Blouapie wat so nou en dan verskyn, en dan weer verdwyn.  Die tipe stilte wat amper heeltemal ontoeganklik vir die gemiddelde stadsjapie geword het. 

Dit is interessant om passe te probeer tel op jou fiets, sonder om na jou kaart te kyk.  Jy is al by drie en dan kom ‘n bord wat sê dit is nou eers die eerste een.  Mense wil altyd vra en beïndruk wees met hoe vêr jy op jou fiets ry, maar dis mos gravitasie wat jy veg.  My wegspringpunt trek my nie terug nie, inteendeel trek my bestemming my altyd nader. Dit is die grootse verskil van op ‘n fietstoer wees, teenoor ‘n sondagmiddag draai op jou fiets om jou buurt:  Op toer is jy op pad iewers heen, daar is darem so klein bietjie betekenis in die kalorieë wat jy verbrand.

   

Met die voorlaaste duik – net voor die 7de pas – kry ek uiteindelik ‘n plekkie om my voete in die water te steek, by ‘n bruggie oor die Swartrivier.  Natuurlik is ek nie die eerste persoon wat 6 passe afgetel het vir ‘n bietjie rivierterapie nie.  Die ander los hulle stompies en Black Label blikkies.  Ek prober om slegs ‘n bietjie van my siel agter te laat. 

‘n Backpackers in Wildernes is basies die Vatikaanstad van die wêreldgeloof van dagga rook.  Teen die tyd wat jy jou kamer se sleutel kry by die skrefiesoog bestuurder, kan jy redelik seker wees dat No Woman No Cry al vir die derde keer sal begin speel.  Daar is ook altyd ‘n snoekertafel, en om dié tafel is daar altyd ‘n paar losstaande mans uit die plaaslike omgewing, kompleet met kortmou pakke, kleurvolle dasse en sneakers.  Soms selfs ‘n kierie ook.  Sover ek kan sien vorm hulle deel van die Groot 6 Afrika Ervaring, vir vele buitelandse toeriste. 

Daar is ook altyd een of ander straatkat met ‘n sny of twee oor sy gesig – tekens van sy rowwe verlede.  So sit ek en Kitkat later rustig mekaar en warm hou, met Wildernis se bos, en die nabye branders, in ons uitsig en agtergrond.

 

Die volgende oggend – die laaste van my toertjie – verken ek eers die Sondagoggendmark wat vanoggend op die backpackers se grasperk opgeslaan is.  Te koop is alles wat mens verwag: Tie-dye, leer produkte, ‘n fortuinverteller en CBD in elke vorm.  Die leerstalletjie se vrou vertel my dat ‘n solar flare die naweek Suid-Afrika gaan tref, koper gaan begin smelt, en so dus die finale klap aan ons kragnetwerk gaan gee, en die land uiteindelik in totale donkerte gaan laat. Ek wou eers dink: Jy moet so nou en dan bietjie uit Wildernis kom.  Maar eerder geniet ek haar geselskap en menswees en die feit dat, sou die donkerte ons regtig oorval, ek ‘n baie lekker storie sal hê om te vertel.

George is net om die hoek, en om deur te beweeg, my gekose manier om stedelike gebiede goed te verken: Die agterstraatjies natuurlik.  Dáár waar die steriele wit voorstede verander na die arm, musiek-gevulde stofstrate, en dan die begraafplase, en die tronke en natuurlik ook die goeie ou skougronde...alles met die Outeniquaberge as agtergrond.  By die skougronde se hek kry ek uiteindelik ‘n bietjie skuiling teen die warm laatmiddagson, asook ‘n steen om op te sit en my middagete te geniet.  Uitstekende toestande om misgis te word vir ‘n hawelose.

 

In Glentana sê ek gou hallo vir ‘n ou vriend en ons gesels asof ons, na al die jare, steeds koshuis kamermaats is.  Met die laaste bietjie skemerlig pak ek die laaste stukkie pad aan tot in Mosselbaai.  Aandry is mos lekkerry, en vanaand weet ek waar ek slaap.  Voor ek my oë uitvee is ek alleen op ‘n grondpad, in die donker nag, en in die koue, en in die reën...alles waarteen Ouma my sou waarsku, sommer so in een.