yellowstone

Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada.  Hierdie is die sevende storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:

Yellowstone is ‘n vreemde plek. Jy ry 4000 km op jou fiets deur die Amerikaanse Rocky-gebergtes, waar verskillende landskappe mekaar gedurig afwissel om jou.  Jy beweeg op, af, oor en deur woestyne, grasvelde, woude en sneeubedekte berge.  So ry jy Yellowstone Nasionale Park in.  Mooi groen met dennebome wat pas die sneeu van hulle dun arms afgeskud het.  Dit is alles mooi en bekend, maar dan verskyn vreemde goed tussendeur.  Soos dorre ooptes waar helder pers-blou water vloei oor oranje en rooi plante, terwyl dik stoom en die stink reuk van swael oor alles hang.  Dit is wat dit so geweldig interessant maak.  Die hele plek is nie vreemd nie.  Dit is die ongewone verskynsels wat ongestoord tussen die gewone Noord-Amerikaanse natuurskoon lê.

Hierdie was die wêreld se eerste nasionale park.  Daar is vir lank vermoed dat daar iewers in die park ‘n groot vulkaan rus, maar niemand kon ooit die oog vind nie.  Later het hulle besef die hele park is die oog van ‘n vulkaan. Hierdie is dus ook die wêreld se grootste aktiewe vulkaan.  Bill Bryson verduidelik alles mooi in sy boek A Short History of Nearly Everything.  Bryson reken dat, wanneer (nie indien) die vulkaan weer ontplof, kan New York – 3000 km oos van hier – 20 m onder as begrawe word.

Ek hoop maar hy bly rustig vir nou.  Nie net vir ‘n as-vrye en sonnige Noord Amerika nie, maar ook omdat hierdie ‘n plek van ontmoeting is.  My vrou Annheliza kom kuier vanaf Arizona.  Ons het ‘n week vol avontuur beplan.

Op die fiets is jy die hele tyd ontbloot aan al die natuurlike elemente.  Reën skep gewoonlik die grootste probleme.  Jy hoop vir daardie vinnige en harde bui.  Alles word nat, maar daarna kom die son weer uit om dinge reg te maak.  Die dag wat ek Yellowstone inry word ek vergesel deur die ander soort reën:  Lig en aanhoudend met geen teken van ophou nie.

Ek het ‘n paar dae by die Grand Teton Nasionale Park deurgebring.  Dit is baie mooi daar.  Skerp, grys rotsberge - met sneeu nog dik in die klowe - kyk neer op ‘n familie van mere met helder blou water en versteekte strande met sagte sand vir jou lyf om op te ontspan.

The Tetons, soos hulle bekend staan hier, sit net suid van Yellowstone.  Hulle grens eintlik aan mekaar.  Dit is naby dié grens waar ek myself nou in ‘n netjiese hotel bevind.  My vuil lyf is papnat so ek sit baie liggies op die leerbank met my vingers styf om ‘n warm koppie koffie gevou.  Ek kyk uit na die nat wêreld buite en my fiets wat hartseer in die reën staan.  Ek besef dat dié reën nie gou gaan ophou nie, maar ek hoop en wag nog ‘n bietjie.

Later - met ‘n bietjie selfbejammering - staan ek huiwerig op, trek al my lae klere aan en val weer die nat pad in.  By die ingang van Yellowstone staan die karre in lang toue.  Hierdie is ‘n gewilde park wat amper 4 miljoen besoekers per jaar ontvang.

Ek spandeer die eerste aand in West Tumb Village in ‘n formele kampterrein met selfs ‘n Bear Box om my kos vir die bere weg te steek.  Hier is ook ‘n badkamer en selfs ‘n paar storte.  Luukshede op die fiets.  Die hele park is gevul met sulke dorpies waar al die besoekers saamdrom in die aande, maar jy kan ook vooraf reël om in afgeleë plekke in die woud te kamp.  

Dit is by hierdie afgeleë kamplekkies in die wildernis waar ons verblyf gereël het vir die volgende paar dae en die volgende oggend is ek op pad na die eerste een.  Dit is net so 60km se trap en ek geniet ‘n rustige dag deur dié mooi park.  My eerste ompad is na die Lone Star Geyser.  Hierdie geyser lê die hele park vol waarvan die bekendste en grootste in Old Faithful is.  Old Faithful is ook Yellowstone se grootse dorp en ek sien al die massas toeriste wat al om die geyser saamdrom.  Ek wil graag die verskynsel in die natuur ervaar.

‘n Klein enkelspoor pad – so sewe km lank – draai van die groot pad weg en vleg deur ‘n vallei met ‘n dun rivier langsaan. Die rivierwater is ‘n mengsel van gesmelte sneeu en die kokende water wat verder op vanuit Lone Star vloei.  Ek bereik die geyser waar die pad eindig.  In die middel van nêrens sit ‘n eienaardige wit homp, seker vier meter hoog.  Dit lyk soos ‘n reuse, wit miershoop en rondom die homp is yl stroompies water wat stadig afloop onder stoom. ‘n Sterk swaelreuk hang swaar in die lug.

Sedert moderne mense Lone Star ongeveer 135 jaar gelede ontdek het, ontplof hy elke 3 ure.  Binne ‘n houtkassie lê ‘n boek waarin mense die gebeurtenisse aanteken.  Ek blaai deur en sien dat die volgende ontploffing oor ongeveer 2 ure sal wees.  Tyd is gelukkig nie ‘n probleem op fietstoer nie.  Ek gaan sit rustig eenkant, eet middagete en lees my boek.

So 30 min voor ontploffings-tyd  is daar beweging.  Stomende water begin bietjie-bietjie by die mond uitspuit.  Dit word meer en meer, spuit hoër en hoër, en verander stadig en eweredig in een groot ontploffing in.  Vuurwarm water spuit amper 15 m hoog en bly konstant so vir minstens 10 minute.  Die klein groep mense begin wegbeweeg soos die fyn warm sproei oor alles begin val en die swaelreuk sterker word.   Dan, ewe skielik, kalmeer hy weer en begin sy voorbereiding vir die volgende vertoning. 

By Old Faithful, so 20km verder, stop ek om my kos voorrade aan te vul.  Hier is baie mense.  Die parkeerterrein lyk soos ‘n mall sin.  Ek voel so bietjie selfsugtig, want vir ses weke lank het ek natuur vir my self gehad en nou moet ek dit met al dié mense deel.  Hier moet ek ook ons permitte vir die wildernis kampplekke by die veldwagter se kantoor optel.  Hierdie is Amerika, so ek moet natuurlik eers ‘n 30 min oriënteringsvideo kyk.  Na vele tonele van Grizly-bere en ander diere wat mense aanval trap ek huiwerig verder na ons kampterrein. 

Laatmiddag bereik ek Goose Lake.  Dit is hier waar ek môre vir Annheliza sal ontmoet.  Ons het dinge so afgespreek, maar ek het vir drie dae nou al geen selfoon opvangs nie.  Ons het al twee net koördinate wat lei na 'n afgeleë plek in ‘n baie groot park.  Ek hoop dat ons plan sal uitwerk. 

Skielik mis ek die massas mense wat ek ‘n paar ure vroeër so graag wou vermy het.  Ek is nou al gewoond daaraan om alleen in die wildernis te slaap, maar ek is nou in Grizly wêreld.  Hier is boonop wolwe ook.  Twee hoë pale met ‘n dwarslat bied plek om jou kos op te hang. Van hier moet jy – wind op – jou tent ongeveer 50 m verder opslaan.  Daardie oriënteringsvideo is nog vars in my geheue en ek berei my kampterrein netjies en streng volgens die boek voor.  Ek is in my slaapsak lank voor donker.  Nog ‘n onrustige aand wag.

Die volgende oggend – vroeg uit die tent – is ek omring deur ‘n toneel vanuit ‘n ander wêreld.  Dit is stil, koel en windloos. Oor Goose Lake se seepgladde oppervlak - met helder blou lug as agtergrond - skiet sagte wit torings stoom die lug in.  Daar is baie.  Hulle is nou eers sigbaar in die koue lug en ek besef met verbasing dat ek omring is deur geysers.

Annheliza kan enige oomblik opdaag.  Ek wag in spanning.  Rondom middagete se kant sien ek ‘n klein figuur met ‘n rugsak op die horison!  Die ontmoeting bring groot vreugde en ons gesels asof ons mekaar vir ‘n jaar nie gesien het nie.  Boonop kyk ek nou al vir lank in koue braaiers vas en is verder baie opgewonde oor die steak en whiskey wat uit my vrou se sakke val.

Die volgende oggend is dit lekker om die betowerende toneel van Goose Lake met iemand te deel.  Terwyl ons ontbyt eet – weer omring deur stoomtorings - lewer die Goose van Goose Lake selfs ‘n vliegvertoning oor die meer en later stap ‘n Bison-buffel rustig verby ons kampterrein.  Kan hierdie plek enigsins meer perfek wees?

Oor die volgende vyf dae verken ons Yellowstone Park met kar en te voet.  Elke aand slaap ons op ‘n ander afgeleë plek.  Daar is groen berge, diep valleie, reuse riviere, buffels, bokke en tussendeur al daardie vreemde verskynsels van kokende blou watergate in landskappe van rooi en geel.  By die dorpies stop ons vir kos, omring deur die massas mense.  Daarna gaan ons na ons volgende wildernis wegsteekplek, vergesel deur net die natuur (en so bietjie beer-vrees).

Op die laaste dag verlaat ons Yellostone aan die westekant.  Die park lê meestal in Wyoming, maar raak ook in die noorde aan Montana en hier aan Idaho.  In die dorp West Yellowstone eet ons ontbyt in ‘n plek wat slaggereed wag vir Quentin Tarantino se volgende fliek.  Ons is nou in groot aartappel wêreld en op ‘n lang, silwer toonbank verskyn ons groot borde olierige ontbyt met bruin gebakte skyfies wat van die rante afval.  Koffie is onbeperk en ‘n geen-nonsens vrou hou aan om ons koppies vol te maak.

Al die opwinding, gepaard met heeltemal te veel kafeïne asook latere padwerke, maak ons laat.  Annheliza se vliegtuig vertrek oor twee ure na Arizona.  In die gejaag laai sy my af by ‘n klein grondpad.  Hier is niks.  Net ‘n afdak oor ‘n paar posbusse (in dié land kan jy jou pos enige plek ontvang).  Met my fiets en toerusting opgebreek in ‘n hele paar stukke verlaat die kar my met ‘n spoed na Idaho Falls.

Net so is ek weer alleen.  Stadig bou ek weer my fiets op en laai my swaar sakke met al die week se oorblyfsels kos.  Montana, die sesde staat van my toer, lê so 3 ure se trap Noord-Wes van hier - weer op die kontinentale waterskeiding.  Met ‘n uitgeruste lyf en gemengde gevoelens trek ek weg.  Die verlange is klaar groot, maar ek is opgewonde om weer op die pad te wees.  Die avontuur gaan voort.  Net soos my eerste oggend uit Tucson, en die meeste daarna, het ek geen idee waar ek vanaand sal slaap nie.