bosbang

Op 17 Mei 2017 het Stefan Tucson, Arizona, verlaat op ’n bergfietstoer na Kanada.  Hierdie is die vierde storie van sy reis. Vind die vorige stories hier:

Die geheim is die swaar gelaaide fiets.  Dit bring jou nader aan mens en natuur.  Mense is nuuskierig en geïnteresseerd.  Hulle gesels graag.  Die natuur beleef jy in stadige mosie, want gepaard met die rowwe en styl grondpaaie, beweeg mens maar onwillekeurig op ’n baie stadige pas deur bos, berg en vallei.  Soms is dit makliker en selfs vinniger om te stoot.  “Hike-a-Bike” soos hulle spot. Maar ek het nie dié 5000km bergfietstoer oor die kontinentale waterskeiding van die Rocky-gebergtes aangepak om langs my fiets te stap nie. 

Colorado is vol van mens en natuur en dit is hier waar my gedagtes so dwaal terwyl ek die derde staat van my Noord-Amerikaanse avontuur aanpak.  Arizona en Nieu-Mexiko lê agter my en voorkant lê my pad deur nog drie ander state tot in Kanada.

Nommerplate hier dra ’n slagspreuk om die staat te bemark aan die res van die land.  Arizona sê “Grand Canyon State”.  Nieu-Mexiko reken hulle is die “Land of Enchantment”.  Maar Colorado sin sê, met so bietjie arrogansie dalk, net “Colorado”.  Almal weet hoe mooi die plek is.  En almal weet waarvoor hulle bekend is.  Groen.  Water.  Berge.  Baie groot en hoë berge.  Colorado spog met 58 pieke wat hoër as 14 000 voet is.  Plaaslik word hulle die Fourteeners genoem.  Dit is amper 4 300m.  Suid Afrika se hoogste bergpiek, Mafadi op Lesotho se oosgrens, lê maar op 3 450m.

Ek mik tans na Salida, ’n dorpie aan die wal van die Arkansas-rivier in die suide van dié staat, maar tussen ons lê nog ’n paar passe waarvan een Marshall’s pas is.  Hier sal ek ook weer die kontinentale waterskeiding oorsteek op 3300m.  Op ‘n fiets is jy baie bewus van hierdie hoogtes.  Elke dag is daar ’n pas, so tussen 500m en 1000m, om te oorwin.  Gewoonlik op in die oggend en af in die middag.  Vandag is ek lui en besluit sommer na 60km om ’n kampplek te soek. 

Ek het gisteraand in Del Norte geslaap, my eerste dorp in Colorado.  Met reën wat oor my giet en die donker wat vining nader kom het ek met groot verligting ’n warm huisie in die dorp gevind.  ’n Plek spesiaal vir fietstoerders.  Dit was te goed om waar te wees.  ’n Klein houthuisie - verwarmer aan die brand - met ’n toegeruste kombuis, sagte beddens en ’n stort.  ‘n Mens is op die regte avontuur wanneer ‘n gewone stort luuks voel, het ek gedink soos ek die plekkie verken het. 

Sulke bederf is lekker maar ‘n mens is lui om weer weg te trek.  Dit is die luiheid wat my steeds terughou hier in die bos vandag.  Boonop is ek ook nog bietjie verskrik na my drama in die sneeu van die Nieu-Mexikaanse berge so twee dae gelede.  Maar Kanada lê nog vêr en vorentoe is die enigste rigting. 

Die pad na die bopunt van Marshall’s pas is perfek vir fietstoer: ’n Geleidelike opdraande oor ’n gladde enkelspoorpad deur ’n groen vallei met die bos wat plek-plek oopmaak vir ’n mooi uitsig oor Colorado se sneeubedekte pieke.  Deur een van hierdie gapings sien ek die Sawatch-bergreeks wat ’n hele paar Fourteeners besit - die meeste vernoem na die gesiene universiteite: Mount Harvard, Yale, Oxford…  By die bopunt van die pas lê die sneeu weer dik oor die pad en ’n inligtingsbord wys duidelik waar die kontinentale waterskeiding loop.  Nou kan ek mooi sien soos ek noord kyk: Links vloei die reënwater na die Stille Oseaan en regs na die Atlantiese Oseaan.  Ek sit kruisbeen en eet rustig my middagete met my kop agteroor soos ek staar na Mount Ouray.  Steeds amper 1000m hoër as ek en die pas.

Van hier word ek bederf met meer as ‘n 1000m se afdraande tot in Salida.  Ek benodig ’n paar fietsparte en (baie dringend!) ’n ander saal.  Salida het ’n groot fietsry-kultuur en met my besoek aan die plaaslike fietswinkel is dit duidelik sigbaar aan die mense wat daar werk.  Hulle lewe is op die fiets, alles anders vul net die tyd tussen-in.  Ek gesels oor my roete verder noord.  Net buite Salida, weer 1000m op, wag South Park.  Hulle noem alles wat ek nie wil hoor nie: Sinkplaatpad, onvoorspelbare weerstoestande en verlate dorpies waar niks beskikbaar is nie. 

Dit is môre se bekommernis.  Colorado is bekend vir hulle brouerye.  Ek gaan drink ’n bier by een van die baie mikrobrouerye in die dorp en kry toe amper nie weer my fiets nie.  Die bloedsuiker is bietjie laag.

Die volgende dag, na ’n lekker koffie op die Arkansas-rivier, ry ek huiwerig in die rigting van South Park.  Hierdie is wat hulle noem High Altitude Plateau.  Dink aan die platteland, net 2000 m hoër.  Ja, en dit is ook hier waar daardie skerp- en vuilbek tekenprentkarakters vandaan kom.  Ek bereik die plato en slaan my tent onder die laaste bietjie bome op.  Voor my lê South Park nou:  Wye plat grasvelde met ’n dun grondpaadjie wat verdwyn op die horison.

Ek is alweer alleen in die woud, dink ek.  Hier in die hoogtes is dit koeler, meer nat en baie stil.  Die meeste van hierdie landskappe is ontoeganklik in die winter en lê gewoonlik in ‘n nasionale woud - The National Forests soos hulle dit noem.  Dit is publieke grond, so enige persoon kan dit gebruik vir ontspannings doeleindes.  Oor die algemeen is dit egter baie stil.  Gewoonlik net die wind deur die dennebome se naalde - stilte wat mens kan hoor.  Jy mag jou tent enige plek opslaan wat dit ideaal maak vir fietsry en avontuur, maar die verlate landskappe kan ook vreesaanjaend wees.  Ek is in my tent voor die son sak en soos dit donker word, en die Cayotes se huile weergalm deur die valleie, dink ek aan hierdie nuwe, vreemde gevoel wat ek nie eintlik ken nie.  Eensaamheid met vrees?  Bosbang dink ek, Bosbang!

My trap deur South Park begin rustig maar kort voor lank is die weer op my.  Stormsterkte wind dryf die yskoue reën en fyn hael wat stroom uit die pikswart wolke.  Die gelaaide fiets het lekker vatplek vir die wind en ek lê skoon skuins terwyl ek trap.  Later kalmeer die wind, maar die reën bly.  Alles word natter en natter.  Ek vind skuiling by ’n verlate huisie en bekyk die storie terwyl ek probeer om die gevoel in my vingers terug te kry.  Dié reën gaan nie gou ophou nie.  Ek moet aantrap, anders gaan ek nie my volgende dorp (met ’n winkel), Brekenridge, betyds haal nie.  My voorrade is laag en boonop wag die hoogste pas van my hele reis tussen-in.  Dit is die Boreas pas op 3500m.  Ek trap stadig voort oor die modder sinkplaatpad. Voor my lê Boreas berg en sy maats onder swaar reënwolke.  Onder hulle skuil Como en so ‘n uur voor die son sak vind ek ’n wegkruipplek vir die nag net buite dié eensame ou myndorpie.

Die volgende oggend, oor die Boreas pas en nog ’n kontinentale waterskeiding kruising, val ek met ’n lang afdraande Breckenridge in.  Ek geniet ’n koffie waaroor ek al twee dae droom, laai my elektroniese ware en maak kontak met die buitewêreld.  Hierdie ski-oord is die speelplek van die rykes en ek voel verlig dat ek nie hier hoef verblyf te soek nie.  Deur die aanlyn fietstoergemeenskap van Warmshowers het ek weer blyplek gereël.  Die keer by Bruce Buehner.  Hy wag vir my nog so 30km verder.

My indruk is dat die gemiddelde Amerikaner vreeslik baie bekom en nooit iets weggooi nie.  Ek bekyk altyd die huise soos ek stadig verby hulle trap.  Bruce se plek is geen uitsondering nie.  Die houtlat huis lê in ‘n baie groot erf met ses karre in ’n ry.  Dit lyk of net een gebruik word.  Die onvoltooide huis - ’n paleis vir een persoon - lê oor drie verdiepings met dinge en goeters oral rond.  Ons kry net-net deur die motorhuis gestap op pad na die huis bo.  Bruce is ’n afgetrede elektrisiën wat nog sy hele lewe lank in Colorado bly.  Hy druk ’n koue bier in my hand en op sy half-geboude stoep bekyk ons die sonsondergang oor Colorado se berge terwyl hy my vertel van sy fietstoer avonture in Denemarke.

Die volgende oggend drink ons koffie met groot oopgevoude kaarte op die kombuistafel.  Ek het besef dat ek voor skedule is en beplan ’n ompad of twee.  Met ’n paar moontlike opsies in my gedagtes dank ek Bruce vir sy gasvryheid en val in die pad. Ute pas is my eerste uitdaging vir die dag en ek besef weer hoe baie vryheid ‘n mens geniet op ‘n fietstoer.  Met genoeg kos en water kan jy enige rigting invaar.  Ek bereik die T-aansluiting, waaroor my en Bruce se vingers vroeër op die kaart geskuif het, en sommer so in die beweeg maak ek die besluit…links of regs….links of regs?  Regs!  Na die Rocky Mountain Nasionale Park.